(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 44:24-45:28 (2020)
Teksvers: Genesis 45:7,8

‘n Mens kan jouself net indink hoe groot die skok moes wees vir Josef se broers, dat hulle so lank al die geheim van Josef se “dood” weggesteek het, en gevrees het dat hulle sonde ontdek sal word. 

Die vrees van hulle sonde het onsekerheid en twyfel gebring, hulle was doodsbenoud as hulle dalk vir Josef moes teëkom in Egipte. En nou staan hulle broer hier voor hulle. Die strenge man, die owerste wat hulle soveel onsekerheid en onrus veroorsaak het, die man aan wie hulleself bereid was om as slawe oor te gee vir die lewe van hulle broer Benjamin, hy is hulle broer. Maar Josef gaan nie wraak neem nie. Hy sien God se voorsienigheid, die behoud van sy kinders. Josef is die uitverkore seun wat sy familie moet red. 

God gee hierdie seun as verlosser van sy broers. So oorwin die liefde van God die kwaad.