“Maar die wysheid, waar word dié gevind, waar is die woonplek van die insig? Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie. Die diep waters sê: ‘Dit is nie in my nie’ die see sê: ‘By mý is dit nie!’ Goud kan dit nie koop nie, sy waarde kan nie in silwer afgeweeg word nie.” (Job 28:12-15).
“En Hy het vir die mens gesê: Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.” (Job 28:28).
In hierdie tyd van oorweldigende nood waarin baie van ons, ons tans bevind, raak dit absoluut noodsaaklik om met die nodige wysheid en insig besluite te neem wat soms wyer as net onsself strek. Dan kom die vraag soms, maar waar kry ons dan wysheid en hoekom voel dit of daar so min daarvan is as ons so om ons kyk?
Die woorde van Gesang 252 som dit so mooi op;
O HEER, my God, by U is wysheid
wat by die mense dwaasheid heet –
dié mense wat in eie wysheid
steeds dink dat hulle alles weet.
Volmaak is alles uit u hande,
u kennis het geen perke nie.
Die mens, gebind deur sondebande,
verbly hom in u werke nie.
In ‘n tyd waar tegnologie so gevorderd is en ons al die inligting moontlik, op ons vinger punte tot ons beskikking het, dink maar net aan Google, Sirri en ChatGPT, is ons steeds in ons menslike swakheid, nie in staat om die wêreld se “groter probleme” op te los nie, ons dink aan die oorloë, of dreigende oorloë, plaasmoorde, armoede, water tekorte, steeds kan al die kennis wat ons het nie al hierdie krisisse oplos nie.
Waar vind ‘n mens dan wysheid? Ware wysheid kom slegs van God, dit is ook nie iets nie, dit is iemand en ons vind dit in ons Here Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees, deur Sy Woord en in Gebed.
Kom ons bid saam, ook in hierdie Jubeljaar dat God ons sal seën met wysheid, want blote kennis gaan ons nie kan red.
Oudl Petri Pienaar