Ons Jubeljaar of eerder jubellewe begin by die Here. Hy seën ons met ʼn nuwe lewe van oorvloed. Ons deel reeds, en sal eendag in volmaaktheid, deel in sy ewige lewe. Ons jubel nie net elke 50 jaar nie, maar elke dag. Vir ons as verlostes is dit hierdie jaar en elke jaar ʼn jubeljaar. Ons lees van die belangrikheid van rus: 

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê” (Jesaja 30:15). 

In ʼn jubellewe kom ons die Here se voorskrifte na en gehoorsaam sy bepalings. Die belofte is: “As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon” (Lev 25:18). Die aarde en alles daarop behoort aan die Here. ʼn Jubellewe is alles wat ek is en het, en is deur die Here aan my geleen. 

Ons moet dus vir Hom alles gee wat Hy van ons vra. Ons moet gereeld bid dat die Here ons lewe sal verander sodat Hy meer word en ons minder en dat ons meer aan Hom toegewyd sal wees. 

Jubeljaar (Louis Brittz se lied) 

Ons kies die kruispad met ʼn glimlag 
Losgekoop, getuig ons van die kruis 
Jesus, gee sy jubelgees, dat ons al meer soos Hy kan wees. 
Die grond waarop ons voete loop, sal bewe, 
Sal vrugdra want die kruis bring lewe 
Die jubeljaar-belofte bly, skud jou kettings af, jy’s vry 
Kyk, kyk die Koning het gekom om te sê 
Hy bring die jubeljaar. 

Daar’s hoop, hope hoop, ons kan maar droom. “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want Hy is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb 10:23). 

Daar’s vreugde in die jubeljaar. 

Dis hierdie jaar en elke jaar, ʼn jubel, jubel, jubel, ʼn jubeljaar… 

Is dit ook waar van jou lewe? 

Oudl Ben Erasmus