Dwarsdeur die wêreld en eeue heen stoei die mensdom met die kwessie van ryk en arm. In die vorige eeue het die dwaasheid van die koningshuis en gepaardgaande adellike rykdom en verkwisting tot ‘n breekpunt gekom met die Franse rewolusie. Demokrasie is gebore en verkoop as die “silver bullet”, maar die ongelooflike kontraste in die Westerse wêreld tussen super rykes en armes skreeu ten hemele. Sosialisme en kommunisme as alternatief het gefaal en lui mense gekweek met min inisiatief om die wêreld te bewoon, bewerk en bewaar. 

As Christene moet ons antwoorde kan bied op alledaagse probleme, anders bly die Bybel en ons godsdiens teoreties en ‘n Sondag-stokperdjie. Jubeljaar met al sy reëlings, is die Bybel se antwoord op hierdie ekonomiese vraagstuk. “Heilig die vyftigste jaar en kondig ‘n kwytskelding in die land af vir al die inwoners van die land. ‘n Jubeljaar moet dit vir julle wees” (Lev. 25). Een keer in elke mens se lewe het almal die kans gekry om van vooraf te begin. Al het jy hope bymekaar gemaak, is alles tydens die Jubeljaar geneutraliseer en het die vader se groot erfdeel nie sorgelose kinders geskep nie. As jy verarm het a.g.v. jou vader se wanbestuur, het jy ‘n kans gekry om oor te begin en ‘n sukses te maak vir jou en jou gesin. Leef jy uitspattig voor die Jubeljaar, beter jy na die Jubeljaar baie vinnig te verander of jy word die een wat jou grondgebied moet verkoop. 

Verder vereis Lev 25 dat die armes gehelp moet word deur hulle land te verpand en self dagloners te word. Daar was dus geen “SASSA-uitkerings” vir werkloses nie, en selfs die weduwees en wese moes hulle kant bring deur self kos bymekaar te maak, soos dit baie mooi vir ons geskilder word in Rut 2. Almal was besig om hulle talente te gebruik om besig te wees met hul kultuur opdrag van Gen. 2. 

Ons wat leef in ‘n komplekse 21ste eeuse samelewing, is die onmiddellike terugkeer na hierdie Bybelse model is nie haalbaar nie. Ons kan egter begin met ‘n paar praktiese dinge soos om voor die Here te bely dat alles syne is en dat alles wat ons het net geleende goed is. Wees elke dag besig om voluit te werk om die wêreld te bewoon, bewerk en te bewaar. Leef om te werk in Gods koninkryk en nie werk om te leef (oorleef). As die Here ons seën met oorvloed, seën ons ander mense sonder om terug te verwag. Weerstaan die wêreldse begeerte om so gou moontlik genoeg bymekaar te maak om “gemaklik te kan aftree” en dink twee keer voor jy geld op jouself spandeer (bv. nuutste model voertuig). As elkeen sy plig doen, en ons vra die Here se seën daarop, kan ons land ‘n paradys word waarin almal in vrede met mekaar kan leef. 

Oudl Andries Zeevaart