Die Here bewaar jou uitgang en jou ingang (Ps121) 

 Die afgelope week was vir ons as gemeente een van baie hartseer. Binne 24 uur word drie lidmate skielik uit ons midde weggeruk en dan boonop is daar nog die talle siekes waarvan sommige baie ernstig is. 

Nie alleen is daar Sondag twee lidmate wat met hartprobleme sterf nie, maar Maandagoggend sterf die jonge suster Melinda op haar verjaarsdag in ‘n motorongeluk en haar man Liam Pilkington beland in ‘n kritieke toestand met veelvuldige kop en rugbeserings, in die hospitaal. Om die donker prentjie nog te vererger begrawe ds Lourens sy oom die afgelope week nadat hy deur ʼn vragmotor in Pretoria omgery is! 

En tog sien ons dat die digter van Ps 121 bely dat dit alles nie toevallig plaasgevind het, omdat die Here dalk sou slaap of sluimer nie. Nee, Hy is soos die skadu aan ons regterhand. 

Hy bewaar ons nie maar net VAN die dood nie maar ook IN die dood. Hy, die Bewaarder van Israel, laat niks toevallig oor ons kom nie. 

So skryf die digter dat God ons uitgaan en ingaan beheer. Eerstens dui dit gewoon op ons daaglikse lewensgang – jy gaan uit om te werk of te leer, en keer weer terug huistoe na ‘n bepaalde tyd. En Hy, die almagtige God en Here, Hy sorg vir jou. 

Maar as ons na die volgorde van die twee woorde kyk, dan sien ons dat die Here ook in ons UITGAAN uit hierdie lewe die enigste sê het, en dat juis Hy bepaal wat daarna, dws in die dood, met ons gebeur. 

Jesus se ‘uitgang‘ wat Hy in Jerusalem kom voltooi het (Luk 9:31), kom gee aan ons uitgang uit die lewe sin, sodat ons nou kan ‘ingaan’ in die hemelse heerlikheid. 

So bewaar Hy ons uitgaan én ons ingaan, om ewig by die Vader te wees. En so word die hartseer van die afgelope week, beperk deur die heerlike wete dat ons verlies hul wins is. 

Mag die Here wat die dood oorwin het, uit die hoë hemel deur die Heilige Gees aan elke bedroefde hart sy lieflike troos en bystand gee. 

Ds Maarten