Skriflesing: 2 Konings 8:7-15 (2020)
Teksvers: 2 Konings 8:11-13

Elia ontvang drie opdragte van die Here in 1 Konings 19:15-16. Dit is, naamlik om Elisa as sy opvolger aan te stel, Gasael tot koning van Aram aan te wys en om Jehu tot koning van Israel te salf. Dit is egter Elisa wat Gasael as koning van Aram aanwys (2 Konings 8:13) en toesien dat Jehu tot koning van Israel (2 Konings 9:1-3) gesalf word. 

In 2 Konings 8:7-14 sê Elisa met groot hartseer dat Gasael, in opdrag van die Here, koning van Aram sal word, met verskriklike tragiese gevolge vir Israel. Gasael het egter heftig ontken dat hy ooit soos ‘n wrede dier sou wees. Hy is immers nie ‘n hond nie. 

Sondige gedagtes van mense soos Gasael, Kain, Judas en Petrus, (en dalk onsself), gebruik die Here om ons die diepgang van ons eie sondige aard en natuur te leer ken. Deur hierdie kennis leer ons dat ons “van nature” geneig is om God en ons naaste te haat. Deur God se Woord en Gees leer ons watter krag daar in Christus Jesus is. Net Hy kan aan ons die oorwinning gee oor ons skrikwekkende sondige aard en gedagtes.