“Julle is meer werd as baie mossies.”
Die bekende gedeelte van Christus wat ons in Matteus 10:31 lees sê dat ons vir God meer belangrik is as al die diere op die aarde. Maar beteken dit ons het geen verantwoordelikheid hier op aarde het nie? Kan ons maar net agteroor sit en God sal sorg? Natuurlik nie. God gee vir ons die opdrag van werk in verskeie dele van die Bybel: Genesis 1:28; Genesis 3:19 asook in Handelinge 20:35 (1983) waar Paulus sê – “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help…” is maar enkele voorbeelde hiervan.
Nou kom die vraag op, hoe hard moet ek werk en en mag ek myself verryk? In die 10de gebod sê God aan ons, ons mag nie begeer nie, maar ook lees ons in Spreuke 10:4 (1953) “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.”; en in Lukas 19:11-27 (1953) die bekende gelykenis van die goue munte en waar die heer aan sy diensknegte se “…Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.”
Dit is belangrik om te verstaan dat God nie ʼn ryk man haat nie, maar wel as geld in ons lewe God se plek inneem, en ons geld méér lief het as vir God. “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tim 6:10).
Dus kan ons saamvat deur te sê: God haat luiheid. Hy het immers aan ons talente gegee en om te gebruik. Daardeur kan ons die Gewer verheerlik. Ons word getaak om ons gawes tot die beste van ons vermoë te gebruik. Welvaart moet net nie ʼn afgod raak nie.
“Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder.” Spreuke 9:9 (1953)
Oudl André Pretorius