Hoe verskil die lewe van ‘n Christen teenoor ‘n nie-Christen? Beleef ons as Christene nie ook maar teenspoed of swaarkry nie? Word ons nie ook maar siek nie? Of beleef ons as Christene nie enige finansiële druk nie? Net soos enige iemand anders, of dalk selfs meer, juis omdat ons Christene is, beleef ons ook moeite, swaarkry en verdriet. 

Paulus bid vir die gemeentes van Kolossense en Tessalonisense: 

Kolossense 1:3-5: “Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag.” 

1 Tessalonisense 1:2-3: “Ons dank God altyd oor julle almal wanneer ons aan julle dink in ons gebede. Voor God ons Vader onthou ons onophoudelik die uitwerking van julle geloof, die moeitevolle inspanning van julle liefde, en die standvastigheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus.” 

Paulus bid nie: “ons dank die Here omdat ons gehoor het hoe goed dit met julle gaan en hoeveel voorspoed julle beleef”, nee, Paulus dank God omdat die Christene se lewens gekenmerk word deur geloof, hoop en liefde. 

Gaan dus hierdie week in met ‘n diepe geloof in ons Koning en Verlosser Jesus Christus, en met standvastige hoop op al God se beloftes en ‘n onvoorwaardelike liefde aan God, aan ons naastes en aan alle mense. 

Oudl Eric Guldemond