Ons bly in ’n stadsomgewing waar ons geseënd is met verskeie skole. Van Kleuterskole Laerskole en Hoërskole, ja selfs Universiteite, Kolleges en ander instellings, wat waarskynlik onder die bestes in ons land tel. Baie van die instellings kan selfs op Internasionale vlak deelneem. Daar is ook in ons gemeente ’n korps van Katkisasie-personeel wat op Sondae ons kinders onderrig. 

Ons is baie maal geneig om hierdie instellings te kritiseer. Dink maar net hoe gereeld bedank ons die onderskeie instellings en hulle betrokke personeel vir die reuse taak wat hulle in ons kinders se lewens verrig? 

Ons ouers het met ons eie doop beloftes afgelê. Ook het ons elkeen as ouers met die doop van ons eie kinders die doopbelofte afgelê. Hoe gereeld gaan herbesoek jy daardie belofte? Luister jy telkens aandagtig met die doop van ’n nuweling in ons gemeente? 

Ek verwys graag na die derde doopbelofte: “Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?” 

Met die ingedagte, mag ons in die Jubeljaar dankbaar wees vir die instellings en mense waar ons, ons kinders laat onderrig. Mag ons uitreik na die persone wat ons toevertrou in hierdie groot taak. Mag ons hulle bedank vir die positiewe invloed in ons kinders se lewens. Mag ons hulle opdra in ons gebede. En mag ons self ook aanmeld om op die wyse ’n verskil in ander se lewens en in die Koninkryk van God te kan maak. 

Paasfees het juis ook die karakter om as gesin saam te kom en die groot werke van God se verlossing oor te vertel. Gebruik die geleentheid om saam te leer oor Wie God is en wat Hy alles doen en vir ons moontlik maak. 

Laastens, mag ons jubel oor ons kinders en die boodskap so ook aan hulle oordra! 

Oudl Louis Dekker