Skriflesing: Openbaring 19:1-10(2020)
Teksvers: Openbaring 19:7, 9

Openbaring 19:1-10 fokus op die bruilofsmaal van die Lam waarby ons betrokke sal wees as “die bruid” en as “die uitgenooide gaste”. Deur die nagmaalsfees wat ons vandag hier op aarde vier, word ons herinner en aangespoor om uit te sien na die vreugdevolle bruilofsfees van die Lam wat nog voorlê in die toekoms. Ons onthou en glo, deur ons deelname aan die nagmaal, dat Jesus Christus vir ons geoffer is as Lam tot versoening met die Vader en tot verlossing van ons sondes. Ons sien uit na die heerlike bruilofsfees wat met die wederkoms van Jesus Christus gevier sal word. 

Mag jou hart en gedagtes vol wees met die drie maal herhalende en vreugdevolle “Halleluja’s” van Openbaring 19:1 – 4. Jesus Christus, kom. Hou dan bestendig vas aan die Here Jesus se reddende, verlossende, versoenende en genadige offer as Lam van God. Halleluja! Jesus Christus het die oorwinning betaal. Hy het die prys ten volle betaal. Nou wag ons op die bruilofsfees van die Lam wat nog sal kom.