Ons kerklike bydrae is in alle opsigte ’n dankoffer aan God. Uit dankbaarheid teenoor die Here vir Sy genade wil ons die eerste deel van alle inkomste aan Hom van harte en gewillig gee (2 Kor. 8,9). Ons gee met blymoedigheid, as teken vir die opregtheid van ons liefde en nie uit dwang nie. Ons gee omdat alles wat ons is en het aan die Here behoort en Hy vir ons Sy gawes gee om te gebruik (Ps.24:1; Pred.5:17-18).
Praktiese oorwegings:
- Jou bydrae moet eerste en eers afgedra word voordat jou persoonlike begroting in werking gestel word met die oog op die maand wat voorlê (Lev 23:14 en Lev 14:23). Dit lê op die gewete van elke gelowige of jy wil bydra uit jou inkomste voor belasting of na belasting. Bereken wel jou bydrae, voor enige ander uitgawes soos huis-, motor-paaiement, kruideniers- en klere-aankope, kredietkaartrekening en brandstof.
- Swak finansiële bestuur, spandabelrigheid, suinigheid en selfsug moet jou nie verhinder om gereelde bydraes te gee nie.
- Alhoewel ons in die perspektief van die Nuwe-Testamentiese vryheid leef, is daar nie werklik getuienis in die Skrif wat sê dat dit nie ’n tiende moet wees nie! Ons laat ons in ons heiligmaking en praktiese etiese lewe tog lei deur die gees van die Wet.
Ten diepste bly die gee van ’n keurige kerklike bydrae ’n saak van die geloof en die gewete (Maleagi 3:10). As jy gemaklik sonder die geld kan klaarkom wat jy as ‘n bydrae aanbied, moet jy dalk weer besin oor die keurigheid daarvan!
Ten slotte: “…God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor. 9:8)
Oudl Drikus van der Walt