Dit is opvallend dat beide die Wet, Eksodus 20, en die gebed, Matteus 6, begin met God se heiligheid. Dit is goed om in die hersteljaar weer na te dink oor God se heiligheid en ons respek vir Hom. Dit is ook belangrik om daarop op te let dat die Heidelbergse Kategismus vanaf Sondag 34 tot 52 oor die Wet en Gebed handel. Dit beteken dat hierdie aspekte bedoel is vir Christene wat reeds die eerste beginsels van die geloof verstaan en bely.
Wanneer ons besef dat ons God se genade nodig het, dan verstaan ons hoe Hy ons verlos van ons doodsbestaan buite sy liefde. Dit berei ons om ons te bekeer omdat Hy ons tot bekering bring deur die wedergeboorte, deur sy Heilige Gees, en kan ons die ou lewe aflê en die nuwe lewe leef.
Deel van hierdie nuwe lewe is die respek vir Sy heiligheid soos in die eerste Gebod en eerste Bede beskryf word. Naamlik dat ons geen ander gode sal dien nie en dat Sy Naam geheilig sal word (eerstens deur onsself).
Aangesien ons deur Christus geleer is dat ons op grond van geloof gered word en uit dankbaarheid ‘n heilige lewe moet lei, is dit goed om ons toewyding aan God te herstel. Laat ons die bede uitleef dat Sy Naam geheilig word in wat ons doen, die plekke waarheen ons gaan, die goed waarna ons kyk, die dinge waarna ons luister, die manier en toewyding waarmee ons, ons werk doen, die manier waarop ons met ons gesin, kollegas en vreemdelinge omgaan en op elke ander terrein van ons lewe.
Matteus 5: 16 lees “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik.” (2020)
Oudl Corné Smuts