Skrifgedeelte: Ps 124
Teksvers: Ps 124:7,8
Elke erediens begin met hierdie bekende woorde: Ons hulp is in die Naam van die HERE.
Dit is ‘n openlike verklaring, ‘n openbare erkenning dat ons hulp en ons behoud nie uit onsself is nie. Ons kan onsself nie help nie, die HERE alleen kan ons help.
Die Psalm stel dit eintlik nog baie sterker, as die HERE ons nie help nie, kan niemand ons help nie. Ons is so verlore, so hulpeloos, net die HERE kan ons help.
As die HERE help, dan red Hy. Die HERE se hulp is ons heil. Dit is die wese van waaroor die jubeljaar gaan. Die blydskap en die jubel gaan oor die verlossing, die vrymaking. Jy is nie meer ‘n slaaf nie, jy is nie meer ‘n dienskneg nie, jy is vry!