Die almagtige Here red sy kinders uit die ergste krisis
Skrifgedeelte: Eksodus 13:17-22 Fokusgedeelte: Eksodus 13:18, 21-22
Die krisis waarin Israel beland het, met die see voor hulle en die Egiptiese magte wat hulle van agter inhaal, het klagtes van twyfel en ongeloof ontlok. Moses kry egter van God die versekering dat Hy hulle sal verlos, tot verheerliking van sy Naam. Daarom word die Israeliete opgeroep om nie bang te wees nie. Hulle moet net stil wees en die verlossing aanskou. Daarby moet hulle mooi kyk, want hulle sal die Egiptenare nooit weer so sien nie.
Mens kan dieselfde ding op twee maniere sien. Wie in ongeloof na die aardse omstandighede kyk, kom een of ander tyd in ’n krisis. Wie gelowig daarna kyk, word stil en sien hoe God in sy almag daaroor seëvier.
Vroeër het die Israeliete gesien hoe hulle eie seuntjies in die water van die Nyl sterf. Nou sien hulle hoe die sterk manne van Egipte in die waters van die Skelfsee sterf. Die Here red hulle uit die hand van die Egiptenare. Intussen sien hulle die magtige daad (hand) van die Here oor die Egiptenaars.
By ons kom so maklik twyfel oor God en sy almag om ons werklik in krisisse te help. Twyfel kom so maklik by die oproep tot geloof, veral as jy nog niks sien nie. Nou het Israel weer gesien. Dan vrees hulle God en glo weer in Hom. Die evangelie van ons Here Jesus Christus word gedra deur sigbare getuies. Boonop word dit ook deur die Heilige Gees in ons harte bevestig deur sy Woord en sakramente. Laat ons dan ook bid: Gee my geloof om alleen in God te glo wat my in sy genade en almag uit die grootste krisis van sonde, ja die dood en hel verlos het. Laat ek dankbaar in u jubel.
Ds. SA (Sarel) Cilliers (Emeritus)
Uittreksel uit Dagstukkies van die Almanak 2025. Beskikbaar by die kerkkantoor @ R130