Een van die grootste gevare van die Christendom is ‘n baie onverwagse en skynbare onskadelike vyand. Dit is nie ‘n boosaardige gedrog wat jou wil oorrompel en verskeur, soos ‘n brullende leeu wat op jou afstorm nie, maar een wat lyk soos ‘n engel van die lig. Dit is gewoonlik die skadelikste dwaling, wat die naaste is aan die waarheid. Dwalinge is nie blote namaaksels van die waarheid soos ‘n goedkoper opsie wat Made in China is nie. 

U sien, hierdie gevaar wat menige gelowiges tot ‘n val gebring het, is gemaksug. Dit is die veronderstelling dat jy as gelowige “veilig” is en niks kan oorkom nie, omdat jy die Bybel ken. Dit is die gerief van ‘n Bybel in die sak, maar God se Woord wat ver van jou hart is. 

Baie self-identifiserende Christene verklaar hulself as Bybel kenners, en sommige van hulle ken inderdaad die Bybel goed, maar die Woord van God bring geen verandering in hulle lewe nie. Vir baie toegewyde gelowiges is die Bybel ‘n sentrale deel van hulle lewe, en tog leef hulle nie die Bybel nie. 

Om Bybel te lees het ‘n gewoonte geword, ‘n manier om geestelik gerus gestel te word. Hoeveel maal het u nie al die Bybel gelees en eintlik al vergeet wat jy gelees het nog voordat jy die Bybel terugplaas op jou bedkassie? Dit is soos iemand wat in ‘n spieël kyk en onmiddellik vergeet hoe hy lyk (1 Korintiërs 13). 

God se Woord is die bekendmaking van die Skepper van hemel en aarde. Dit is die eie Woord van God, die Almagtige aan wie jou hele bestaan te danke is. God wil met sy kinders praat, Hy wil hulle onderrig en bemoedig, waarsku en vermaan, maar sy kinders wil nie na sy stem luister nie. Ons het so besig geword dat ons nie meer tyd het om te hoor wat God vir ons wil sê nie. 

Maar weet u, die oomblik as jy jou tyd anders inrig, om tyd te maak vir God om jou tiende van jou tyd ook aan die Here te wy, om Hom te leer ken, dan verander dit jou lewe. Want God se Woord is skerper as ‘n twee snydende swaard. Dit dring deur gewrigte en murg. Dit sny waar geen lem kan bykom nie. Dit opereer jou hart. 

Maak tyd vir God, laat die Woord van God deur die Heilige Gees jou verander deur jou denke te vernuwe. Beproef die goeie en volmaakte wil van God, dan sal jy ware vreugde en vrede ervaar. 

Lourens (vdm)