(Gal 6:10)
Die werkwoord “gee” het te doen met die gawes wat ons aan ander en aan die Here bring. Die beginsel wat van Gen 14:18-20 en wat regdeur die Bybel as riglyn loop, is ʼn tiende of tien persent van alles wat jy ontvang. Wat ons het, het ons van die Here ontvang. Hy gee sodat ons kan gee. So toets Hy ons gesindheid.
Jesus het ook nooit gehuiwer om die onderwerp van geld aan te spreek nie. Elf van sy 40 gelykenisse verwys bv na geld. Geld is immers so alledaags dat ons almal die voorbeeld daarvan kan snap. Geld is nie die probleem nie, maar wel geldgierigheid. Paulus skryf aan Timoteus: “Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad” (1 Tim 6:10). Geld kan ʼn afgod in ons lewe raak en daarvoor waarsku Jesus in die Bergrede: “Julle kan nie God en Mammon dien nie!”
Die Here wil egter dat die bekering van die nuwe lewe in Christus, ons tot diep in ons beursies raak. Daarom toets Hy ons vrygewigheid (2 Kor 8).
“Bring dus die hele tiende na My voorraadkamer, sê die Here, …” anders beroof ons God (Maleagi 3:8-12). God gee aan ons, sodat ons kan gee.
U kan benewens u kerklike bydrae en die kollektes vir die armes en barmhartigheid ook nog bydra vir die volgende en ander instansies:
- Teologiese skool en Studentekas
- Mukhanyo Theological College (waarvan ons gemeente ‘n lidkerk is)
- Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys
- Bybelverspreiding en Biblos
- Evangelisasieprojekte en GKSA Sendingfonds
- Projektefonds van die Kerk
- Crossroads Gevangenisbediening
- Koningskinders
- Kerklike Tydskrifte, DKB, Vroueblad en Kruispad
- Ander verdienstelike sake of organisasies
Oorweeg selfs een van hierdie sake in u boedel en testament. Mag die Here ons ook in die finansiële aspekte van ons geloof en godsdiens seën, en mag ons altyd waarlik dankbaar wees vir alles wat ons uit Sy hand ontvang.
Ds Maarten