Skriflesing: Mat 28:1-10; Kol 3:1-17; Rom 8:11,34
Teksverse: Mat 28:5-7; Kol 3:1,2; 1 Kor 15:3-6,20,21
Die dood word dikwels beskou as ‘n onherroeplike, onherstelbare verlies. Mense dink dit is die ergste wat met ’n mens kan gebeur, jy gaan dood en dan is dit klaar met jou. Maar, Christus se opstanding uit die dood, is die grootste wonder van alle tye! Juis die sondige mens wat nie glo in die opstanding nie, is hier totaal en al verkeerd bewys, wat menslik onmoontlik is, het deur die krag van God waar geword. Die skepping het as ’n ware in afwagting asem opgehou, sou Jesus Christus uit die dood opstaan of nie. Kolossense konstateer die feit dat ons saam met Christus uit die dood opgewek is. Ons glo dit en bely dit en die Heilige Gees getuig dit in ons harte. Dit is ook ons belydenis dat Christus nie net uit die dood opgestaan het nie, maar ook dat daar vir ons nut is in sy opstanding.