Lees Ex 12; Joh 1:29,36
Joh 1:36 “Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!””
Die aand voordat die Israeliete uit slawerny bevry is, die aand voor die uittog uit Egipte, het hulle opdrag gekry om vir elke gesin of twee ’n lammetjie, sonder gebrek te slag en te eet. Maar daar was ook ’n belangrike opdrag by, hulle moes die bloed van die lammetjie neem en dit met ’n hisoptakkie aan die deurkosyne smeer en hulle moes binneshuis bly die hele nag lank. Daardie nag het die Here self deur Egipte getrek en elke huis waar daar nie bloed aan die deurkosyne was nie se eerstelinge, mens en dier, laat sterf.
Ex 12:12 “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!”
Die paasmaaltyd het heengewys na die nagmaal. Dit was dan ook die aand voor sy dood dat Jesus die nagmaal ingestel het (Mat 26). Johannes het dan ook na Jesus verwys as “Die Lam van God!” Daarmee het hy aangedui dat Christus die gelowiges van die slawerny van die sonde kom bevry het. Christus het Homself as die Paaslam aan die kruis laat spyker, sodat die dood, ons wat in Hom glo, nie sal tref nie. Ons moet egter die belangrikheid van Jesus se soenverdienste begryp en dit glo en dit met ons hele hart en siel en verstand aangryp en bely en aanvaar. Die is die Heilige Gees wat hierdie openbaring aan ons bekend maak sodat ons dit kan glo. Dit is dan ook hoekom ons die heilige Nagmaal so gereeld vier om herinner te word aan wat Jesus Christus vir ons gedoen het. Kom daarom ywerig op om deel te neem aan hierdie heilige sakrament.
Die Lam is vir ons geslag!
Jesus Christus is die Lam van God.
Ds. Gerrit