So onthou ek die week van die Pro Patria Medalje wat al ons manne destyds gekry het as jy vir ‘n sekere aantal dae anderkant die kaplyn vir SA in die Bosoorlog gewerk of geveg het. Dit was so ‘n algemene medalje dat die troepe van die ProNutro medalje gepraat het! In die Romeinse tyd het soldate ook erkenning gekry vir die dapperheid in die oorloë wat wyd en syd gevoer is. Een van die toekennings was die Corona Muralis.
Hierdie dekorasie is toegeken vir uitsonderlike dapperheid aan die soldaat wat eerste was om die vyandelike stadsmuur te bestyg en die Romeinse standaard (Vlagwapen) op die muur van daardie stad te plant (Aulus Gellius, Noctes Attici, 5.6.4).
Wat dit nou vir óns interessant maak is dat Paulus spottenderwys daaroor handel as hy in 2 Kor 11:23,33 daarin ‘roem’ dat hy eerste was om in ‘n mandjie van die stadsmuur van Damaskus neergelaat te word en so die vyand te ontvlug (Hd 9:23-25).
In die kerk van die Here en in sy magtige koninkryk word ons nie gedekoreer met pryse en medaljes of toekennings nie. Die wat laaste is sal eerste wees, het Jesus ons self geleer. As jy belangrik wil wees moet jy jou naaste se mindere word en diens lewer.
Dis nie sterkstes wat wen nie maar die nederiges en die sagmoediges en die treurendes. Wie sy/haar lewe wil behou moet hom/haarself verloën… Só hoor ons die stem van die groot Prediker van Nasaret.
Nuwe mense lewe nie meer vir hulleself in die hoop om geprys en vereer te word nie. Ons dien mekaar in liefde uit dank vir God wat ons eerste lief gehad het, en ons voel selfs eer daarin om vir Christus te ly.
Ds Maarten