Skriflesing: 1 Korintiërs 1:1-8
Teksvers: 1 Korintiërs 1:4-8
HK: Sondag 32
Van kleins af leer ons kinders om “asseblief” en “dankie” te sê. Nie net is dit goeie maniere nie, dit wys op ‘n innerlike ingesteldheid. Iemand wat dankie sê, is dankbaar.
Een van die dinge wat ‘n mens geweldig kan ontstel is wanneer iemand bv kos bedel, maar dan daardie kos in die asblik gooi.
Dit is egter presies wat ons ook in ons geestelike lewe doen. So maklik word ons bedelaars van God se genade, maar gooi in die asblik wat God aan ons gee, sonder dankie. Of dat ons dink dat ons sekere dinge verdien. Dan is daar ook geen dankie nie.
Ons staan vanaand stil by die eerste woorde aan die Korintiër gemeente met die oog op die rede waarom ons goeie werke moet doen, met die vraag: hoe sien jy jou dankie?