Skriflesing: Openbaring 8:1-5 (1983) Eksodus 40:1-5; 30:1-10,34-38
Teksvers: Openbaring 8:3,4

In die Tabernakel in die woestyn (en later in die beloofde land) staan die wierookaltaar reg voor die voorhangsel (gordyn).

Reg agter die voorhangsel staan die verbondsark met die versoendeksel en die twee gerubs daarop. Die rook van die wierrookaltaar kan eintlik nie by die verbondsark kom nie, behalwe eenkeer per jaar op die Groot Versoendag, as die hoëpriester daar ingaan namens die volk en met bloed en wierook in sy hande.

Nou het Christus die pad gebaan deur die voorhangsel heen (Heb 10:19), dit is deur sy liggaamlike offer aan die kruis. Ons gebede kan nou by die troon (verbondsark simbolies) van God uitkom. Daarom sien ons elke Sondag uit dat ons as gemeente saam kan kom bid.