Skriflesing: Galasiërs 3:1-29 (2020)
Teksvers: Galasiërs 3:24

Die wet leer ons om te glo. Dit is in kort waarop hierdie woorde uit Galasiërs neerkom. Want u sien, die belofte van God is lank voor die wet afgekondig. Geloof kom voor die wet. Daarom begin die afkondiging van die tien gebooie met die woorde: Ek is die Here jou God wat jou verlos. Dit is op grond van die verlossing wat die wet aan die volk gegee word, nie andersom nie. 

In Eksodus 19 verklaar God dat Hy van sy volk ‘n koninklike priesterdom maak. Dit strook ook met die woorde uit Openbaring 1 dat ons konings en priesters vir ons God gemaak word. So het God die wet gegee as ‘n tugmeester, as ‘n onderwyser sodat ons by Christus kan kom.