Petrus se laaste testament of afskeidsboodskap!
Lees: 2 Pet 1:12-15
12 “Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan
julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.
13 Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek
nog lewe.
14 Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik
aan my bekend gemaak.
15 Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal
onthou.” Bron Groenewald, EP 1977 Die briewe van Petrus. p.116ev
“Hierdie gedagte-eenheid word gewoonlik Petrus se laaste Testament of sy afskeidsboodskap
genoem. Hy weet dat hy sy einde nader en rig daarom ‘n dringende woord aan sy lesers.”
(Groenewald, EP. 1977 116ev)
Petrus skryf aan sy lesers en hy herinner hulle aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Dit is nie ‘n nuwe evangelie waaraan hy hulle herinner nie, maar wat hulle reeds weet deur die eerste brief wat hy aan hulle geskryf het nl. die eerste brief van Petrus.
Die woord vir herinner het egter ook die betekenis dat hy weer, opnuut, dieselfde evangelie en boodskap, weer aan hulle verkondig. Dit is so ernstig dat Petrus wil aanhou en aanhou en hulle herinner en herinner en bly herinner word aan die evangelie.
Dit is so belangrik dat ons elke dag net die Woord en niks anders as die Woord van God sal lees en verkondig en preek nie.
Ons hoef nie in lang redenasies met ongelowige- of kleingelowige mense te gaan nie…Ons moet net aanhou die suiwer evangelie verkondig.
Dit gaan oor die konstante, konsekwente en voortdurende herinnering, prediking, verkondiging van die waarheid aan God se kinders en die wat nog tot geloof moet kom.
Terwyl ons erken dat ons nooit die dieptes van God se Woord sal ken nie, en in daardie sin voel dit asof ons altyd iets nuuts leer.
Tog is die lewe van ‘n christen, ‘n lewe van herinner word aan dit waarvan ons reeds oortuig is en wat ons weet en erken en bely.
Die plig van die prediker is nie om elke Sondag iets nuuts te bring nie, maar om die Skrif oop te maak en die lidmate te herinner aan die dinge waarvan hulle weet en waarvan hulle oortuig is.
Dit is wanneer herders en christene, hierdie heilige plig versuim dat wolwe die kraal betree en verwoesting saai.
• Mag ons altyd ywerig en ywerig wees in ons roeping om die skape te herinner.
• Mag die lidmate, deur hierdie oproepe tot waaksaamheid gewek word.
Maar aan Petrus is bekendgemaak dat hy spoedig sou sterf.
Ons lees in vers 13 en 14 in die 2020 vertaling dat sy tentwoning binnekort afgebreek gaan word. Daarmee stel hy dit duidelik dat hy gaan sterf.
2 Petr 1:13,14 2020 vertaling
13) “Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; 14) want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het.”
Hierdie tentwoning herinner ons baie sterk daaraan dat ons verblyf op aarde maar tydelik is. Ons is maar vreemdelinge op aarde wat tydelik bly. Ons weet tog dat die liggaam net vir ‘n tyd, 60, 70 of 80 jaar daar is en dan sal dit afgebreek word. Dan het ons ‘n vaste gebou in die hemel.
Maar Petrus gebruik hier ‘n baie unieke woord vir sy sterwe.
Hy gebruik die woord vir heengaan of sterf in die griekse woord, EKSODUS!
Maw soos wat Israel uit Egipte getrek het olv van Moses en na die beloofde land, getrek het, is ‘n christen ook besig om uit hierdie lewe, ‘n eksodus, na die Ewige Kanaän, maw na die hemel te maak.
Dit is dieselfde woord wat ons lees by die verheerliking op die berg in Luk 9:31 dat Moses en Elia in ‘n gesig met Jesus gepraat het oor sy uittog uit Jerusalem.
Soos wat die Israeliete vinnig uit Egipte moes trek, “’n Eksodus” om van die Egiptenare af weg te kom, so het Jesus ‘n Eksodus uit Jerusalem gehad.
Hy het met pyn en lyding ons misdade op Hom geneem en is daarom as ‘n misdadiger behandel en so het Hy Jerusalem verlaat op pad na Golgota.
So het Petrus ook waarkskynlik aan die kruis moes sterf.
“Petrus verwys na sy vertrek, of dood, as sy uittog, sy Eksodus, (ἔξοδος), ‘n term wat net drie keer in die Nuwe Testament gebruik word.
• Paulus gebruik die term om te verwys na Israel se uittog uit Egipte (Heb. 11:22) en
• Lukas beskryf Jesus se dood wat in Jerusalem voltrek sou word (Luk. 9:31). Die gebruik in Lukas is interessant omdat die konteks bestaan uit die gesprek tussen Moses, Elia en die Here op die Berg van Verheerliking.
Dit blyk dat hierdie term dien as ‘n brug na die konteks van 2 Petr 1:16-18.
Petrus praat nie van die dood as die einde nie, maar as ‘n eksodus van een plek na ‘n ander.”
(Bron de Ganahl Andy. 2022’02/18 2 Petr 1:12-15 The Purpose of remembering)
So was Petrus se dood vir hom ‘n heerlike heengaan na sy hemelse woning.
Maar voordat hy sou heengaan, sy eksodus na die hemele, het hy sy laaste dienwerk voltooi deur sy lesers te herinner aan die bly evangelie van genade en verlossing.
Ons ywer vir die Here moet daarom ook wees om gedurig, om altyd die blye evangelie van verlossing en genade te verkondig.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com