Ons geloofsketting!

Lees: 2 Petr 1:3-8
3 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.
4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het.
Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug,
7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.”

Geloof is jou kosbaarste besitting. Geloof is die kosbaarste geskenk van God aan ons.
“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” V3a
God het deur sy “krag” aan ons alles geskenk wat nodig is.
Daarom moet daar geloofs-groei by ons wees.

Ons geloof is soos ‘n ketting met sewe skakels. Op sy eie is ‘n ketting-skakel nutteloos, maar aanme-kaar is die ketting ‘n baie sterk gereedskapstuk. So is daar sewe skakels waarmee ons ons geloof moet versterk. Jou geloof moet verryk word met deugsaamheid..
• Deugsaamheid met kennis…
• Kennis met selfbeheersing
• Selfbeheersing met volharding
• Volharding met godsvrug
• Godsvrug met liefde onder mekaar
• Liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

Ons kan hierdie sewe eienskappe in drie groepe opdeel:
• Eerstens die wat handel oor die karakter van ons geloof.
• Tweedens die wat handel oor die gesindheid van ons geloof.
• Derdens handel die wat handel oor intermenslike verhoudinge in die geloof.

Die karakter van ons geloof.

Deugsaamheid Deugsaamheid beteken om volkome in jou doel te slaag. Ons as christene se doel is om God te verheerlik. As ons dan God met ons hele lewe verheerlik slaag ons in ons doel.

Kennis Die betekenis van kennis hier is kennis wat toeneem. Kennis gaan nie net oor intellektuele kennis nie, maar dit gaan oor ’n verstaan van die Woord en die uitleef daarvan deur ’n intiem persoolike verhouding met God en met jou medemens.

Die Innerlike gesindheid van ons geloof.
Selfbeheersing Selfbeheersing gaan daaroor om die verkeerde wêreldse plesiere van die lewe, wat tot sonde lei te weerstaan.

Spr 16:32 “’n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter,
‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.”

Spr 25:28 “’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm,
so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersig het nie.”

Volharding/lydsaamheid/geduld van ons geloof.

Jak 1:3,4 “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word, sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Volharding is iets waaraan ’n gelowige biddend en in diepe afhanklikheid van God moet werk. Dit gebeur nie outomaties of kom vanself nie. Ons lees juis in Rom 5:3,4 “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;”

Godsvrug Hierdie woord beteken vrug te dra tot eer van God. Dit beteken om geloofsvrugte te dra. Iemand wat in die regte verhouding met God staan sal ook in die regte verhouding met sy naaste staan. Hy sal vrugte dra wat by die bekering pas. Dit gebeur met almal wat na die wil van God soek en dit biddend in geloof nastrewe.

Interpersoonlike verhoudinge in ons geloof.

Liefde onder mekaar / Broederliefde Petrus skryf juis in sy eerste brief, 1 Petr 1:22, dat die wedergebore kinders van God mekaar moet liefhê. 1 Petr 1:22 “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.”

Liefde vir alle mense / Naasteliefde Hierdie liefde is die agape liefde wat God bewys het teenoor alle sondaars toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Dit is die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitstort as ons in die Gees wandel. Rom 5:5 “…God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Om mee af te sluit

Kom ons werp alles in die stryd om ons geloof te verryk.
Kom ons bid dat God ons sal seën, om met oorgawe en entoesiasme, die deugde by ons geloof te voeg.
Mag ons lewe so verryk word dat ons ‘n verdieping en ‘n verinniging in ons verhouding met ons Verbondsgod ervaar.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com