Hand 2:36-47

As gemeente van gelowiges in ons Here Jesus Christus, het ons ’n groot verantwoordelikheid. Hierdie verantwoordelikheid behels of beteken dat ons aan mekaar verbonde is. Ons is aan mekaar verbind deur ons geloofsband in Jesus Christus. Ons is een groot geestelike gesin, een groot geestelike familie, een voor God in en deur Jesus Christus. Daarom kan niemand homself maar afsonder en op sy eie lewe, los van die ander “gesinslede” nie. Ons is gesamentlik verantwoordelik vir mekaar. 

Juis in die moderne eeu raak hierdie waarheid al hoe belangriker. Almal raak meer individualisties en die moderne mens wil as ’n ware “anoniem” op sy eie voortleef. Ons sit heinings om ons huise, bly agter mure en toe deure, weens veiligheid en elkeen is individueel met homself besig. Dit is nie hoe God dit bestem het nie. 

Die beeld van 1 Kor 12 is duidelik dat elkeen van ons ’n gawe van God ontvang het. Ons is elkeen maar ’n ledemaat van die liggaam. Elke ledemaat van die liggaam is belangrik om die liggaam ten volle te laat funksioneer. Daarom is dit nie van belang of jy die oog of oor of hand of tand is nie. Van belang is dat jy jouself gee aan God en aan die gemeente tot voor-deel en uitbreiding en uitbouing van die gemeente en die koninrkyk van God. 

Om dit te kon uitleef het Petrus aan die gemeente geleer in Hand 2 dat hulle hulle moet bekeer, laat doop, laat onderrig in die Bybel en dan saam eet en bid. Dit wys duidelik op die “koinonia” die saamleef in ’n eenheid voor God. Daarom is dit so belangrik as gemeente om saam die Here te dien, om mee te leef en elkeen op sy gebied met die gawes wat God aan jou gegee het, die Here te dien. 

Mag ons almal saam die Here aanbid en die Here dien, tot eer en verheerliking van God en tot opbou van Sy kerk en Sy koninkryk. 

Ds. Gerrit