Wees waaksaam! Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu.

Maandag 15 Mei 2023
Lees: 1 Petr 5:8-11 “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand (die teëstander), die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.”

In hierdie tweede laaste gedagte-eenheid van die eerste brief van Petrus lees ons van twee sake:
• Satan wat rondloop soos ‘n brullende leeu
En
• God se genade.

Jesus het vir Petrus ‘n paar keer gewaarsku dat Satan agter hom aan is. Satan val christene en veral die leiers altyd aan. Satan se aanval is reël en eg en ons moet as christene altyd teen hom waak. Daar is egter te veel christene wat aan die slaap gesus is en nie werklik waak nie. Die satan werk agteraf en dikwels in die nag. In die gelykenis van die saaier lees ons in Mat 13:25 “Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.”
39 “…die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel.” Satan werk in die donker, agteraf, op slinkse maniere. Satan is ‘n leuenaar en ‘n moordenaar.

Ons lees van Satan in Joh 8:44 “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.”

Wat moet ons doen om Satan teen te staan?

Wees waaksaam! Ons moet biddend, altyd op die uitkyk wees teen Satan se aanvalle. Hy doen dit baie slinks en agteraf, sodat jy dit nie maklik agterkom nie. Toe koning Dawid nie uitgegaan het om oorlog te maak saam met sy manne nie, het hy vir kwaadgeld op die paleis se dak rondgeloop en met Batseba onsedelikheid en moord gepleeg. (2 Sam 11) Toe Petrus te vol selfvertroue was, wou Hy Jesus met geweld en moord beskerm en het hy Malgus se oor afgekap.
(Joh 18:10)
Weerstaan die duiwel! V9 Dit beteken dat die christene, in die kerk moet saamstaan om die duiwel teë te staan. Dit is soos ‘n weermag wat saamstaan teen die vyand. Christene moet teen Satan weerstand bied. Fil 1:27-30. “Ons moet volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.” Ons kan nie op ons eie staande bly nie. Dit is so belangrik om aan ‘n kerk te behoort om daar ondersteuning en onderskraging te kry. Hou saam met jou mede-christene eredienste.

Glo onvoorwaardelik! Ons moet onvoorwaardelik glo dat ons reeds meer as oorwinnaars is deur Hom wat ons krag gee. In Rom 8:31-39 lees ons dat ons die oorwinning al klaar bereik het, dat ons in Christus niks te vrees het nie. Maar juis omdat ons kinders van God is moet ons nooit ophou stry in die geloof nie. Ons moet biddend en doelbewus die Satan weerstaan in ons lewens deur te lewe tot eer van God. Vlug weg van alles wat jou van God af kan aftrek. Die Bybel is die swaard van die Gees wat ons altyd moet gebruik. Lees jou Bybel elke dag en bid elke dag en die Heilige Gees sal jou krag gee om weerstand te bied.

Onthou! Onthou dat jy nie alleen is in die stryd teen Satan nie. Satan val alle christene aan. Satan werk veral in die kerk. Satan werk veral om deur allerhande maniere onmin te saai en wantroue en afval ook in die kerk. Stry dus saam as gelowiges teen die Satan.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com