Hier staan ek, ek kan nie anders nie, mag God my help” So lui die bekende woorde van Luther op die Ryksdag van Worms. Dit was nie soseer die Keiser of die Pous wat Luther tot hierdie getuienis gebring het nie, maar die Woord van God en die werking van die Heilige Gees wat sy gewete gebind het aan die Waarheid! 

Tydens die afgelope week se 5de sessie van die Pastorale Versorgingskursus, was die tema: Coram Deo. Dit beteken: voor die aangesig van God. Elke mens moet voor die aangesig van God staan, en jou verantwoord oor jou optrede. 

Soos Luther, word ons nie net gedaag voor ‘n regter nie, maar voor die Regter. So het gelowiges deur die eeue heen, soms fisies voor God gestaan en beloftes ontvang of opdragte gekry. Wanneer ons as gemeente op die “Jom Jahwe”, die dag van die Here bymekaar kom, dan staan ons ook Coram Deo. Eerskomende week gaan ons die Nagmaal van die Here gedenk, deur saam aan die tafel van die Here deel te kry. 

In die Nagmaalsformulier word dit eksplisiet voorop gestel dat elke gelowige hulleself waarlik moet self ondersoek, dit is dat elkeen sy/haar: 

1. denke ondersoek: dink na oor jou sonde en vervloeking 

Reaksie: verootmoedig jou voor God 

2. hart ondersoek: Glo jy die vaste belofte van God 

Reaksie: Slegs Christus kan jou sondes vergewe en God se geregtigheid skenk 

3. gewete ondersoek: Wat is jou voorneme van vergifnis 

Reaksie: Bewys dank aan God en leef opreg deur te vergewe en jou naaste lief te hê 

Stel jouself op die proef, of soos Paulus aan die Korintiërs skryf in 2 Kor. 13:6 “Ondersoek jouself of jy uit die geloof is” Mag jy in die spieël van God se wet kyk en sien dat jy sonder Christus niks is nie. Kom dan na die Nagmaal, haastig, kruisig jou ou sondige natuur saam met jou Verlosser, sodat jy saam met Hom begrawe kan word in die dood van die sonde. Staan dan op, en leef in ‘n nuwe lewe, deur die krag van Sy sterkte Coram Deo… 

Lourens (vdm)