Dit was twee jaar gelede dat ek hier in die kerk se tuin my trane moes inhou weens die eensaamheid en verlatenheid van die kerkwerf tydens die lockdown. Ek het op die stoep gesit en iets gedrink nadat ek die kerk se gras kom sny het wat in die lockdown nie opgehou groei het nie. Die son het so agter die strelitzias gesak. Daar was meer blomme as ooit voorheen. So asof hulle wou sê dat alles nie verby is nie. Die Covid-lockdown het ons stil gemaak, ingehok, bang gemaak. Wat wag vir ons? En dan skyn die laat middagson op die helder oranje van hierdie besondere blomme in die kerktuin en jy kry weer hoop en uitsig.
En nou bloei hulle weer. In die afgelope twee jaar het ons ‘n paar van ons geliefde lidmate begrawe soos elke jaar. Sommige het weer regtig ‘n paar noue ontkomings met die virus gehad. Soms het ons gestruikel in ons vertroue weens die vrese en kommer.
Maar die son skyn vandag weer deur die strelitzias… Die kerktuin ‘n lushof van hoop!
Die Here was getrou. Die Here het gesorg. Hy het ons bewaar. Ja, selfs in die tye van dood en graf was daar die troos van “sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh 11:25,26).
Die dood was hartseer, maar nie tragies nie. Want ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie. En nou dat Covid deel geword het van ons daaglikse lewenswyse kan ons nog steeds na die strelitzias kyk. Hulle blom weer. Elke jaar sal hulle blom want God, die onderhouer van sy skepping, sorg vir hulle… en vir ons.
Hy sal ons bewaar in doodgevaar. Jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou ingang en uitgang bewaar, van nou af tot in ewigheid! (Ps 121)
Liefdegroete
Ds Maarten