Hierdie woorde beteken nie dat jy die hele dag in jou binnekamer moet vertoef nie, maar dat alles wat jy doen deur gebed gedra moet word. Gebed is soos asemhaal, jy doen dit byna sonder om te dink. Dan word jy ook weer gereeld in jou stiltetyd (persoonlik of in ‘n gemeentelike samekoms) stil voor die Here in danksegging en smeking en voorbidding (Fil 4). 

Gebed is in wese nie ‘n wapen of ‘n beheermiddel nie. Ons hoor deesdae weer van sogenaamde gebedsvegters (‘prayer warriors’) wat ‘n gebed-skans moet oprig teen die vyand. Verskeie versoeke rondom die huidige oorlogsituasie in Europa gebruik hierdie soort taal wat eintlik vir ons vreemd is. 

Gebed is nie deel van die wapenrusting van die gelowiges nie (Ef 6). Ons trek die wapens wel biddend aan (6:18), want die krag en oorwinning kan net van die Here kom. Die krag lê ook nie in die aantal bidders of die lengte van gebede nie. Die krag en heerlikheid behoort aan die Here en die gebed is ons afhanklikheidverklaring van Hom aan wie die mag en krag behoort! (Lees ook Jak 5:16 oor die krag van een gelowige se gebed). 

Gedurende die afgelope week het ons weer gehoor en geleer dat wanneer ons groot aksies aanpak in die gemeente dat ons moet weet dat die duiwel dit beslis gaan teenstaan. Daarom is dit nodig dat die hele gemeente eendragtig sal volhard om vir die bedieningsaktiwiteite van hierdie gemeente te bly bid. Die duiwel hou nie van die suksesse van die kerk van Christus nie en sal ons met al sy mag teen staan. Hoewel die Here hierdie teenstand toelaat, kan daar niks gebeur sonder Sy beskikking nie. Daarom dat Paulus vra dat die gemeentes vir hom bly bid. Hy skryf daaroor so mooi in 2 Kor 1:10-11 

“Dit is die Here wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.” 

Dat daar ernstig vir die bediening van leraars en ampsdraers in die gemeente gebid moet word is seker. Ons is egter ook medewerkers deur veral ook te bid vir die uitreikaksies van evangelisasie (Brugbediening, Crossroads, Koningskinders, Biblos, Alethea, etc). 

Ons gebed sal nie die suksesse bepaal nie, maar so doen dan alles in diepe afhanklikheid van Hom wat die Bose sal teenstaan. Hy is ons Verlosser en Here wat die duiwel en sy magte op Golgota oorwin het en nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie! 

Is jy ook ‘n medewerker? 

Bid dan gedurig!

Ds Maarten