Soms kan ons deur ons eie toedoen onsself soos met kettings vasbind. Deur jou eie begeertes en wense, word jy ‘n gevangene, ‘n slaaf van jou eie omstandighede. Ons is almal vir die afgelope twee jaar deur inperkings aan bande gelê. Ons vryheid is ingeperk en ons lewens het ʼn drastiese verandering ondergaan. Daar kom egter ‘n punt in ‘n mens se lewe waar jy nie meer so wil leef nie. Jy wil vrykom. Jy wil die vryheid terug hê wat jy ken en altyd kon geniet…
Hoewel dit maklik is om ‘n rede aan te voer vir die inperking, doen ons baie maal dieselfde met ons eie lewens, sonder dat ons dit besef. Deur ons denke en ons oortuigings word ons martelare van ons eie lot. Soms is dit deur dinge wat met ons gebeur, en ander male dinge wat ons nie kon voorsien nie.
Dink maar net hoeveel mense leef met ‘n wrok in hulle hart van dit wat iemand hulle aangedoen het. Hoeveel mense is kwaad en ongelukkig oor ander se optrede teenoor hulle. Hoeveel mense is teleurgesteld en hartseer omdat mense hulle in die steek gelaat het, gejok het of dalk sommer heeltemal vergeet het.
Dalk het jy so worsteling in jou lewe. Jou kinderjare wat swaar op jou rus. Jou broer of suster met wie jy nie praat nie. Jou kinders wat niks met jou te doen wil hê nie. ‘n Vriend of vriendin wat vervreem geword het…
Nou kan jy nie meer nie. Jy is moeg om die las te dra van hierdie gevangenisskap van jou hart. Jy wil die kettings breek, maar jy weet nie hoe nie.
Daarom pleit die apostel: julle is tot vryheid geroep. Die Here maak ons vry. Die Here leer ons ook met hierdie Nagmaal dat ons nie slawe van die verganklikheid moet wees nie, maar dienaars van die ewige God.
Kom dan na die Nagmaal, en sien en ervaar hoe die Here jou vry maak. Moenie net ‘n toeskouer wees van Christus se kruisiging nie, nee, neem self jou kruis op, na Golgota, en word saam met Jesus Christus gekruisig in jou sonde. Eers dan, as jy in jou self sterf, sal jy saam met Hom in ‘n nuwe lewe kan opstaan.
Kom dan, met jou hele hart, na Christus, en word vry. Jy word daartoe geroep.
Lourens (vdm)