Skriflesing: Romeine 11:33-36; Efesiërs 3:14-21
Teksvers: Romeine 11:33 en 36

Kan jy onthou hoe jy as kind in stomme verbasing en verwondering na iets gestaar het. Opgewonde! Hand voor die mond van pure verbasing. iets wonderliks wat jy gekry het? Jy kon dit nie glo nie… tog: daar is dit voor jou oë… 

Ek dink dit is met so ‘n absolute gevoel van verwondering waarmee Paulus Rom. 11:33-36 geskryf het. Sorgvuldig, keurig onderrig hy in die hele Romeinebrief sy lesers oor die waarheid van die evangelie van Jesus Christus. 

En dan, asof uit die bloute, oorweldig dit wat hy so sorgvuldig skryf, oorweldig dit hom. En dis asof hy sy leraarspen neersit, en spontaan ‘n lied begin sing… ‘n lied van verwondering. Verwondering oor die God wat hierdie verlossing aan ‘n verlore mensdom bewerk en geskenk het. 

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik is sy weë! 

Raak ons nog in verwondering oor die skatte van die evangelie, dat ons in verbasing daardeur oorweldig word.