In Oktober vier die protestantse kerke wêreldwyd elke jaar die hervorming (of Reformasie). Dit is reeds 503 jaar gelede wat Luther se bekende 95 stellings die aarde geskud het. Op so baie maniere kan ons in 2020 nadink oor die rol tussen kerk en staat, maar veral ook die rol van die kerk self.
Ons kan sekerlik vra of die kerk werklik in die samelewing gemis word? En of ons werklik ook ‘n gemis voel aan kerkwees?
Vandag is daar in Duitsland baie min van die nalatenskap van Luther te bemerk wat die evangelie aanbetref. Dit is opmerklik dat soveel stede Lutherstad heet, maar dan gerig op die mens as volksheld en nie as hervormer nie…
Wat ons vandag ervaar in die bywoning van ‘n erediens en die gemeenskap van geloof is feitlik onbekend aan die moderne Duitse nasie. Die duisternis in Duitsland ten opsigte van die geloof en die evangelie is sigbaar in die volgende illustrasie:
- Duits, is met sowat 100 miljoen moedertaalsprekers die sterkste moedertaal in Europa.
- Van al die Duitssprekende kinders in Europa kom sowat 94% nooit ’n erediens of kerk nie.
- Van amptelike kerklike kant mag daar nie meer onder Jode of Moslems sending gedoen word nie.
- Teoloë wat die Skrif as Woord van God aanvaar, is ’n klein minderheid …
- Die honger na die Woord is groot, predikante wat die Skrif onvoorwaardelik as Woord verkondig, is egter baie min.
Sedert Junie vanjaar is die Geref. Kerk Postmasburg die sendende kerk wat dr. Victor d’Assonville na Duitsland stuur vir die voortsetting van sy opdrag daar om aan ’n teologiese skool in Duitsland (RTS – Reformatorisch-Theologisches Seminar Heidelberg) klas te gee om predikante en sendelinge – hoofsaaklik vir die Duitssprekende wêreld – op te lei.
Indien u die VSOD wil ondersteun, en aan ander mense kan bekendstel en hulle kan aanmoedig om hierdie grootse sendingprojek te help dra, sal dit opreg waardeer word. Stuur gerus ‘n epos indien u belangstel om in ’n nuusbrief oor hierdie werk in Duitsland ingelig te word.
Indien u ‘n bydrae wil maak gebruik gerus die besonderhede: Naam: Vereniging vir sending onder Duitssprekendes (VSOD) Bank: ABSA • Tak: Ben Swartstraat • Rekeningnommer: 93 1760 4596.
Mag die Here weer herlewing bring, net soos 500 jaar gelede, nie alleen in Duitsland nie, maar oor die wêreld heen.
Lourens (vdm)