Om Namakwaland se blomme te gaan kyk is ‘n groot voorreg en eintlik ‘n móét vir elkeen wat dit kan doen. Kyk ek na ons foto’s van die afgelope naweek dan besef mens jy kan die prentjie-mooi land nie op film vaslê of oorvertel nie. Die Here het kwistig sy verfkwas gebruik en ‘n wonderwêreld opgetower vir ons om te sien en Hom te verheerlik.
Psalm 126 kom by my op soos ons deur die semi-woestyn van Namakwaland en die Knersvlakte ry. Eintlik is dit ‘n dorre en barre wêreld, waar dit meesal met temperature rondom die veertig grade worstel. So ook die Suidland van Israel. Die Hebreeus gebruik die naam van die Negevwoestyn suid van Judea. Harde wêreld! Dorre aarde, ja, maar laat dit net reën in die winter, dan kom die blomme in die vroeë lente in krag uit die aarde, net soos in die Weskaap van Namakwaland!
Die digter van hierdie psalm roep in herinnering dié kere dat God ingegryp het en hulle lot drasties verander het. Nou vra hy dit moet weer gebeur. Die woestyn kan ‘n lushof word, maar net die Here kan so iets vermag.
Ook ons gebed is vandag so. Ons soek weer die vreugde van die vryheid van pandemie en misdaad en korrupsie. Ag Here, verander tog ons lot, soos u die Negev in waterstrome en lentebloeisels verander. Net u kan dit doen omdat Jesus dit vir ons met sy bloed gekoop het.
Bid maar hierdie gebed gereeld in jou trane, want as God verhoor sal jy met vreugde maai wat jy gesaai het! (vs6)
Eintlik is ons gebed dat die groot verandering van die wederkoms kom wanneer Hy ons van hierdie woestynlewe kom verlos, en die poorte van die paradystuin oopsluit: Maranata, kom Here Jesus, ja, kom gou!
Ds Maarten