My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook” (Joh 5:17)

Van tyd tot tyd gaan daar in die teologie begrippe rond waarmee mense probeer om die grootheid en grootsheid van die Goddelike openbaring te beskrywe. Begrippe wat populêr raak en dan soms weer in onbruik. Opsigself is dit net die bewys dat God en sy genadewerk onbeskryflik groot is (Rom 11:33). In die laaste paar dekades kry ons die begrip ‘Missio Dei’ as poging om die missionêre fokus van die kerk te beskrywe. Die Latynse woorde sou vertaal kan word met “God se Sending”. God se groot plan om vir Hom ‘n gemeente van uitverkorenes te versamel (Hbk vr 54).

In wese beskrywe Missio Dei die taak van die kerk van die Here binne die groot plan van God self. Die kerk is dan nie die doel opsigself nie, maar die instrument wat God gebruik om sy werk te voltooi. Dit gaan dus nie net om die kerk te wees nie, maar om as kerk van Christus, die werk wat Hy begin het voort te sit. Hy het sy taak voltooi (dit is volbring), maar Hy maak ons sy medewerkers in die versameling van sy uitverkorenes en die oprigting van sy koninkryk.

Die taak van die kerk is dan om deel te wees van die Missio Dei. God het ‘n plan of ‘n sending in die wêreld en om sy doel te bereik stuur Hy sy eniggebore Seun op die groot sending om mense van hulle sondes te verlos. As Christus na die hemel opvaar maak Hy sy dissipels en ook ons deel van die Goddelike plan of sending, deur ons uit te stuur en met ons saam te gaan na alle nasies om mense sy dissipels te maak (Mat 28).

God is nie soos die heidense afgode wat mense sy slawewerk laat doen nie, maar maak mense na sy beeld en roep hulle as medewerkers in sy koninkryk. Hy wil dus sy werk, sy ewige raadsplan voltooi en ons deelmaak van hierdie sending. Dit gee aan ons elkeen die voorreg en verantwoordelikheid om werklik om te gee vir verlore mense en alles in die stryd te werp om mense vir Christus te wen (Hbk vr 86). Daarby kry ons die belofte dat Jesus Christus self saam met ons sal wees in die uitvoering van hierdie kerklike taak (Mat 28) en dat Hy die verkondiging van die Evangelie onder die nasies seën (Hand 2:47b).

Wat ‘n groot voorreg is dit dan om saam met Paulus en baie ander gelowiges oor die eeue heen deel te wees van die sendingwerk van die kerk van die Here. Mag Hy gee dat ons elkeen altyd ‘n oop en gewillige hart het om aan ander mense die evangelie van Christus te bring.

Ds Maarten