2 Kor 5: 1 Ons weet dat wanneer ons aardse woning, wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. 2 Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. 3 Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. 4 Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk, omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5 Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.
As u my toelaat om vandag ‘n persoonlike ervaring te deel, wil ek graag praat oor verliese wat gedurende die afgelope tyd ervaar is. Ek voel die verlies aan my eie lyf op verskillende vlakke, en u sal u eie daarby kon voeg, of dalk met myne identifiseer.
Hierdie jaar was daar vir my die uitsig van ons veertigste huweliksherdenking. Ons wou ons onsself trakteer met ‘n bederftyd wat nou heeltemal nie kon realiseer nie. Onder andere sou ons saam na ‘n konsert van André Rieu in Maarsticht, Nederland, gaan kyk het! My twee Bybelland-toere hierdie jaar, én my langverlof, het onder die pandemie gesneuwel. En dan daarby – die verlies aan die gewone roetine, aan koinonia, kontak en saamwees. Ook nog die vreemde, abnormale regulasies wat ons gemaksones kom toets het. Nog intenser, voeg daarby die daaglikse gesprekke oor die seer en pyn van die eensame Covid-geïsoleerdes. Ander wat hulle werk of salaris verloor het. Daar-by ook diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het, en helaas! … tydens die doods-ure nie die nodige onderskraging kon gee, of kry nie weens die regulasies. Dié soort afskeid is swaar. In al hierdie dinge beleef ons ‘n bedekte voosheid en verlamming weens die abnormale, aanhoudende dra van maskers, die aanhoudende sanitering en die aanhoudende onsekerheid oor wat die diepte-punt (sic: hoogtepunt, piek) van die pandemie gaan wees.
In hierdie proses het ek besef dat die swaarste verlies vir seker is dat ons ons menslike vryheid ingeboet het. Vryheid wat ons as vanselfsprekend aanvaar het en die onsekerheid van die toekoms wat ons dalk gedink het onsself kon uitdroom: dus, verlies aan planne en drome!
Geleerdes het lankal bepaal dat mens tydens verlies die volgende prosesse deurgaan – elke mens op sy eie manier en met sy eie intensiteit: Eers die skok en gou daarna die ontkenning van die werklike gebeure. Dit word gevolg deur aggressie en lei op sy beurt tot ‘n onderhandelingsfase. Meesal kom aanvaarding nadat iets van ‘n swaarmoedige fase (lees: depressie), van langer of korter duur, beleef is.
Maar dan is dit nog nie klaar nie. Hierna volg eintlik die belangrikste deel van die trauma en beproewing van verlies, naamlik om betekenis te soek en te vind en selfs te gee aan dit wat jy deur die verlies belewe het. Waarskynlik soek die wêreld betekenis op die horisontale vlak, maar vir ons as kinders van die Here, vind ons dit in die Here. Die Heilige Gees vul die leemtes van verlies met woorde van die ewige lewe. Die Gees bring ons by Christus; Christus wat soveel verlies ervaar het, sodat ons die ewige lewe as wins kan verkry!
Ek kry so stadigaan die idee dat mens deur die effek van die globale pandemie, in jou besef van afhanklikheid groei, en dat jy die genade van die Here (jou vryheid, familie, vriende en gesondheid) nie meer as vanselfsprekend sal kan sien nie.
Laat ons in hierdie gevoel van gestropenheid, die Here altyd dank vir die genade van hierdie lewe en nie té styf vashou aan die mense of goeters van hierdie verganklike bestaan nie. Ons maak liewer die beste van ‘n slegte saak en hou ons oë op die wenpaal.
Die wenpaal …, waar Christus vir ons sal laat deel in die wins van sy ewige koninkryk: die kroon van die lewe!
Ds Maarten