Na die Hervorming wat op 31 Oktober 1517 amptelik begin is deur Luther wat sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het daar weereens dwalinge ontstaan. Die Sinode van Dordrecht se bedoeling was om ‘n einde te bring aan die godsdienstige stryd wat die Remonstrante (Arminiane) teen die suiwer Bybelse leer gevoer het tov die uitverkiesingsleer.

Arminianisme het die uitverkiesingsleer verwerp en verkondig dat ‘n mens alleen gered kan word as jy glo maar dit hang van jou af of jy uitverkies is of nie. Dit was weer die leer van Pelagius (400 nC) wat geleer het daar is geen erfsonde nie, die mens het ‘n vrye wil en kan self kies vir sy saligheid of nie, daar is geen uitverkiesing nie maar slegs ‘n voorkennis by God en die dood is nie die gevolg van sonde nie.

Gomarus was die Kontra-Remonstrantse leier, ook voorsitter van die Sinode en onder sy leiding het die Sinode die Dordtse leerreëls opgestel. In hoofsaak handel die Dordtse Leerreëls oor die Predestinasie-leer of die Uitverkiesingsleer wat beteken dat God voor die skepping van die wêreld af al bepaal het wie eendag hemel toe gaan en wie nie. Die Kontraremonstrante verwerp die vrye wil van die mens wat bepalend is vir sy saligheid en die suiwer Bybelse siening word in vyf standpunte saamgevat (Calvinisme se standpunt):

  • Die totale verdorwenheid van die mens.
  • Die onvoorwaardelike uitverkiesing van die mens.
  • Die beperkte versoening.
  • Die onweerstaanbare genade van God.
  • Die volharding van die gelowiges.

Vir die volgende klompie Sondae gaan ons die Woord bring aan die hand van die vyf hoof-stukke van die Dordtse Leerreëls.

  1. Goddelike uitverkiesing en verwerping.
  2. Die dood van Christus en die verlossing van die mens deur sy dood.
  3. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind.
  4. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind (vervolg)
  5. Die volharding van die Heiliges.

Ds. Gerrit