ELJADA HUIS
Boekenhoutkloofstraat 949, Claremont
012 377 0503 / 060 984 0809(An) / 079 377 5711 Petro)
eljadahuis@mweb.co.za / www.eljadahuis.weebly.com
Bankbesonderhede: Eljada Huis, Standard Bank, Montana,
Marketlink spaar, 044396058, Bankkode 051001

***********************************************************

2 Augustus 2018(10)

Goeiemôre Almal,

My gebed: “Dankie Vader vir U beskerming, troos, liefde, genade en versorging, Amen”

Die huis se alarm maak my vir die tweede keer hierdie week wakker. Toe my oë oopgaan is dit daglig in my kamer en die besef van iets groots en angswekkend is besig om buite te gebeur tref my op die krop van my maag. Ek spring op en trek die gordyn weg. Met afgryse en ‘n totale gevoel van hulpeloosheid staar ek na die vlamme wat besig is om die lapa te verteer. Dis 00:32 27 Julie. My onmiddelike reaksie is om vir Ubuntu, ons sekuriteit te skakel en ek skree-sê vir die operateur die adres en dat hulle die brandweer  moet laat weet want dit brand buite. Die alarm skree steeds onder en ek de-aktiveer hom sodat ek kan uitgaan en gaan kyk. Buite staan daar reeds ‘n skare mense wat kom probeer help maar hulle kannie inkom nie. ‘n Man wat op ‘n manier oor die hek geklim het en plat op sy boude sit by die westelike hek, ruk en pluk om hom oop te kry maar vergeefs. Ek skree vir hom om op te hou want ek het die sleutel van die slot by my. Ek maak die hek oop en almal storm in om te kom help maar weet nie waar om te begin nie. Intussen het die krag uitgeskop toe die drade begin smelt het en dis donker om ons behalwe vir die verterende vuur wat hoog brand. Dankie Vader daar was geen wind nie en die lapa is ‘n entjie van die huis af maar, ten spyte daarvan het die verksriklike hitte my kamervensters laat kraak. Die brandweer daag op en die manne begin spuit. Bykans ‘n uur later lyk dit asof die vuur geblus is maar bly smeul. Ek staan steeds stil, in my (ordentlike) slaapklere, kaalvoet(voel nie eens die dorings wat steek nie) en staar verstom en verslae na wat oorgebly het – ‘n swart massa. Daar was kosbare items in bokse gestoor onder die lapa wat ons Woensdag en Donderdag gaan laai het by ‘n huis waar beide man en vrou gelyktydig in ‘n motorongeluk gesterf het en die kinders veroek het dat ons dit gaan haal as dit bruikbaar is vir ons. Ja dit was, maar die Here het ook besluit om deur die satan alles van ons weg te neem en daardeur vir ons laat besef dat ons dit nie nodig gehad het nie. Ek berus my daarin.

Maandag laataand het iemand ook die hek se motor aan die brand gesteek om op die manier toegang tot die perseel te kry. Satan nie sy sin gekry nie want die  buurtwag manne en vroue het op die brand afgekom en toe die hek oopgaan is die huis se alarm geaktiveer wat my wakker gemaak het. Hulle het dadelik die brandblussers wat buite was gegryp en die brand geblus. Die motor is egter totaal vernietig en ek het geen antwoorde vir enige van die twee gebeurtenisse wat soos die Here dit wou hê in dieselfde week gebeur het nie.

Dankie GK Centurion wat dadelik bereid was om die uitgawe vir die vervanging van die hek se motor te dek ten spyte daarvan dat die versekering ook ‘n deel betaal het. Ons waardeer sulke vriende in nood onbeskryflik baie. Ons uitgawes verder was om weer die brandblussers aan te vul en addisionele blussers – een in my kamer en een by die kantoordeur – aan te bring @ R2200. Die besef tref my dadelik dat die “veldkombuis” wat ‘n gasbrander is met ‘n 48kg gasbottel daarnaas ook beveilig en gesertifiseer moet word as wetlik. Dit kos ons R4000. Hierdie uitgawes maak ‘n duik in ons finansies, maar is nie onderhandelbaar nie maar noodsaaklik. Ek moes ook kos gaan aankoop om vir die naweek genoeg te kon hê vir ons gesinne. Dit het R6500 beloop.

Steeds is ons kosnood groot, maar ons weet dat die Here ons sal seën met dit wat ons wel nodig het. Dankie nou reeds aan Hom.

Ons behoefte is nie-bederfbare blikkies of pakkies, koffie, tee, boksmelk, suiker, ontbytpap, broodsmere, pasta en toiletware. Enige iets wat in ʼn huis gebruik word behalwe luukshede(vir ons bederfies) is welkom. Ook daardie klein komplimentêre sepies, sjampoo en ander toiletware wat so lastig in jou huis rondlê kan baie goed aangewend word hier by my.

Ek het ook ‘n uiters verdienstelike dogter hier by my wat R900 vir haar veldskool kamp benodig.

Ek wil weereens my dank aan elkeen oordra wat getrou maandeliks bydraes vir die huis maak. Klere, kos, meubels, finansieel en die heel belangrikste dat julle aan ons dink in jul gebede. Sonder hierdie dinge sal Eljada Huis verval in maar net nog ‘n gemeenskapsprojek wat gefaal het. Die bewyse is daagliks sigbaar hoe God vir ons sorg  en iemand het vir my ‘n baie mooi kompliment gegee naamlik dat satan ons sal beproef want iets wat hier gedoen word is vir God aanvaarbaar en Hy sal sorg. Hy is in beheer hier en ek, kleingelowige moet dikwels my kop in skaamte laat sak oor Sy almag. Dankie weereens.

Lekker naweek

Annatjie