Tydens die afgelope toer op die spore van die Reformasie het ek weer intens bewus geraak van die erns van die gereformeerde waarheid versus die dwalings van ons tyd. Behalwe die vyf Solas het ek weer die waarde van die Calvinisme besef en my liefde vir die gereformeerde leer is intens versterk.

‘n Mens het bewus geraak van die erns waarmee ons voorouers vir die waarheid gesoek en gestry het. Hulle was maar altyd in die minderheid teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk, maar nooit skaam om op te staan vir alles wat hulle glo nie. Ek is weer besiel met ʼn nuwe lus en liefde vir die geskiedenis van die kerk en hoe die Here ons van die Roomse dwaling bewaar het.

Laat ons nie die fout begaan om te dink dat die Pous en Rooms-Katolieke Kerk altyd dinge stil en gela-te aanvaar het nie. Naas die openlike vervolging van die Protestantse ketters is daar in verskeie kerkli-ke vergaderings ingrypende besluite geneem om vas te staan in die Roomse beskouings. Ons praat hiervan as die Kontra-Reformasie. Later is die protestantse leer sinodaal vervloek!

Die Sinode van Trente het indringend op al die dispute ingegaan en oor byna 20 jaar (1545-1563), in drie hoofvergaderings sy dwalings herbevestig.

Daar is o.a. oor die volgende besluit (regstreeks teenoor die beginsels van die reformatore):

  • Die gelykwaardigheid van die apokriewe boeke met die kanonieke boeke van die Skrif.
  • Die Sakramente se saligmakende waarde en ook die nagmaaltekens wat werklik die liggaam en bloed van Christus word. Die beker word nie deur gewone lidmate gebruik nie,
  • Die selibaat van die geestelikes in diens van die kerk is goed vir die siel.
  • Besluite oor die huwelik as sakrament, en oor egskeiding wat hertrou onmoontlik maak.
  • Die interpretasie van die Bybel is die alleenreg van die pous (en hoogstens sekere kardinale wat hom kan bystaan)
  • Sinvolheid van aflate, ens.

In antwoord op hierdie sinodes volg die protestante weer met ‘n gereformeerde sinode wat nie alleen die Roomse dwaling nie maar ook die Armenianisme weerlê (in baie kort: Armenius en Pelagius maak ons saligheid afhanklik van die menslike keuse). Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) bely die soe-wereiniteit van God. Ons kry uit hierdie Sinode die standaard Bybelvertaling van die Statenbijbel, ook die Dortse Kerkorde en die bevestiging van die Drie Formuliere van Geref Eenheid: Nederlandse ge-loofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HBK) en die Dortse Leerreëls ((DL).

Ons dank die Here wat volgens sy belofte sy kerk getrou deur al hierdie stormtye gedra en bewaar het.

Ds Maarten