Een van die grootste dorings in Calvyn se vlees in Genève was die Libertyne. Selfs nadat Calvyn vir meer as 15 jaar in St. Peter kerk in Genèvegepreek het, was morele verval oral aan die orde van die dag – selfs in die kerk. Vir die Libertyne het “gemeenskap van die gelowiges” (koinonia) beteken dat alles gedeel is – huise, besittings… en vrouens. Hulle was seksueel promisku in die naam van Christelike vryheid. Maar hulle wou nog steeds aan die Nagmaalstafel sit…
Die krisis rondom die Nagmaal het in 1553 tot breekpunt gekom. ‘n Welgestelde Libertyn genaamd Berthelier is deur die kerk verbied om aan die Nagmaal deel te neem, maar hy het by die Stadsraad appèl aangeteken teen die besluit. Die Stadsraad het die kerk se besluit omgekeer.
Dit het ‘n krisis vir Calvyn veroorsaak wat op geen manier ‘n Libertyn by die Nagmaalsta-fel kon toelaat nie. Sy beginsel was soos altyd – die glorie van God.
Op die dag het die Libertyne opgedaag om aan die Nagmaal deel te neem. Die preek was klaar en Calvyn het van die preekstoel afgeklim om die Nagmaal te bedien. Die Libertyne het opgestaan en in die rigting van die Nagmaalstafel beweeg.
Calvyn het sy arms om die brood en wyn geslaan en met ‘n harde stem uitgeroep:
“Hierdie hande kan julle verbrysel, hierdie arms kan julle afkap, my lewe kan julle neem, my bloed kan julle verspil, maar julle sal my nooit kan dwing om die tafel van my God te ontheilig nie”
Hierna het die Libertyne die aftog geblaas en die res van die gemeente het die sakrament in besonderse gewyde stilte gevier…
Ds Maarten