Skriflesing: Gen 30: 25-43; Gen 31 :1-17,41,42; Heb 11: 21; Psalm 121:1-5 (1Pet4:19)
Teksvers: Hebreërs 11:21(Gen 47:31)
Ai, die arme ou Jakob darem. Hy het vir homself soveel moeilikhede op die hals gehaal. Sy eie planne skelmstreke het hom niks anders as stres en sorge besorg nie en vir sy huisgesin nie goed gedoen nie. Die onreg van die skelmstreke teenoor hom gepleeg het dit nie juis makliker gemaak nie. Ons hoor dat die twintig jaar vir Laban vir hom tog ook moeilike tye was. Die teksgedeelte leer ons egter dat geen onreg teenoor hom gepleeg ooit God se oog ontgaan het nie. En vir God se kinders in die wêreld van onreg en korrupsie geld dit as ‘n troosvolle boodskap.
Nota: In Gen 47:31 lees ons dat Jakob in aanbidding buig oor die koppenent van sy bed., terwyl Heb 11 meld dat hy aanbid oor die knop van sy staf. Die verskil kom in Hebreërs wat aanhaal uit die LXX wat ’n ander lesing het as die MT van die Ou Testament. Die stamwoord is dieselfde, die klinkers verskil. (matê = staf en mitah = bed). Dit maak aan die wese van die saak geen verskil nie. In beide lesings gaan dit immers daaroor dat Jakob aan die einde van sy lewe/ in sy ouderdom ’n dankbare aanbiddende houding in onderwerping aan die wil van God ingeneem het.