Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 58 of 66)

Die Here wag vir dié wat op Hom wag

Skriflesing: Jesaja 30:8-26
Teksvers: Jes 30:15 en 18

Voel dit soms vir jou asof die dinge in jou lewe net meer-en-meer deurmekaar raak. Jy wag-en-wag op uitkoms van die Here. As niks egter uitwerk nie, dan voel jy dat jy amper verplig is om self in te gryp en self oplossings te vind vir die uitdagings in jou lewe.

In hierdie perikoop sê die Here egter dat Israel se krag te vind is in die stil word voor die Here en deur Hom ten volle te vertrou. Elkeen wat na die Here toe terugkeer, sal ware rus by Hom vind.

Die Here is immers gretig, ja amper ongeduldig om sy kinders genadig te wees. Hy wil hom oor sy kinders ontferm en toevou in sy liefde. Die Here is ’n God wat in jou lewe reg sal laat geskied. Gelukkig is jy wat op die Here vertrou en op Hom wag.

Laai af

Wil jy God beter sien? Maak oop jou ore!

Skriflesing: Ex 32-34
Teksvers: Ex 33:1,3,14-17

Eerder in ‘n wildernis met God as in ‘n paradys sonder God!

Hoe leef ons elke dag, met of sonder God? Is God net in die agtergrond van ons gedagtes? Ploeter ons elke dag voort in ons werk en in ons lewens? Of sien ons God in ons lewens en leef werklik tot eer van God? Moses was ‘n man van God wat in sy teenwoordigheid gelewe het elke dag. Elke dag het hy God “gesien en gehoor”. Moses wou niks doen as hy nie seker was dat God by hom en die volk is nie. Maar God is net by jou as jy in ware opregte afhanklikheid van God leef. Om in afhanklikheid te leef is om te hoor, te verstaan en in ‘n opregte gebedslewe met God te leef.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • God se opdrag: Moses trek na Kanaän.
  • God se toorn: Ek trek nie saam met julle nie.
  • God se genade: Goed Ek sal saamtrek.

Laai af

‘n Dankbare Loflied tot eer van God!

Skriflesing: Psalm 145:1-21
Teksvers: Psalm 145:1,21

  • Besing jy elke dag God se grootheid en almag?
  • Breek jy elke dag in lofliedere uit tot eer van God?

Dawid breek hier in ‘n loflied uit, ‘n lofprysing, ‘n danklied omdat God God is. Omdat God sy Koning is, sy Vader sy Verlosser. Prof. Faan Denkema sê die volgende: “Die Christelike geloof is nie ‘n lewensbeskouing of ‘n stelsel van waarhede nie. Dit is ook nie die somtotaal van reëls en gebooie of ‘n manier van lewe nie. Geloof is veral, ontmoeting met die lewende Verbondsgod.” Dit begin met persoonlik voor God staan. Dit begin met Wie God is, Wat Hy doen en jou opregte persoonlike reaksie daarop.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • Prys God as jou God en Koning.
  • Prys God as jou God en Vader.
  • Prys God as jou God en Verlosser.

Laai af

Trane word vreugde

Skriflesing: Jeremia 31 en Matteus 2
Teksvers: Jer 31:15,16 asook Matteus 2:18

In Matteus 2: 16-18 word vertel dat Herodes, toe hy agtergekom het dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, woedend geword het. Daarom het hy sy soldate na Betlehem en die hele omgewing gestuur om al die seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. So het die profesie van Jeremia 31:15 in vervulling gegaan. Daar staan dat daar ’n gekerm vanuit Rama gehoor was, ’n gehuil vol hartseer, want Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders was nie meer daar nie.

Teenoor die hartseer van Ragel het die Here egter volgens Jeremia 31:16 gesê dat die treurendes gerus maar stil kan word. Hulle hoef nie meer te huil nie en hulle hoef ook nie meer trane in hulle oë te hê nie! Die Here belowe dat daar teenoor al die swaarkry, ‘n heerlike verwagting sal wees. Die spreekwoordelike kinders van Ragel sal uit die vyand se land terugkom. Ja daar sal ’n toekoms vir haar nageslag wees.

Wat is dit wat Ragel se diep seer, wat sy in Rama ervaar het, in vreugde sal laat kan verander?

Hoe kan daar vreugde in jou lewe wees ten spyte van seer en swaar?

Laai af

Die geritsel in die toppe van die melkbosse Die Here verslaan sy en ons vyande

Skriflesing: 2 Sam 5:17-25
Teksvers: 2 Sam 5:24

As jy die geritsel in die toppe van die melkbosse hoor moet jy weet dit is die teken van die Here om aan te val. Doen dit blitsvinnig en sonder om te wag. Die geheim van sukses is gehoorsaamheid! Gehoorsaamheid aan God!

Wie luister sal oorwin! Wie verloor in die lewe, is die wat ongehoorsaam is! Gehoorsaamheid aan God is om altyd na God te gaan en raad en leiding te vra in jou hele lewe onder elke omstandigheid. Dawid het telkemale na die Here gegaan en die Here geraadpleeg.

Raadpleeg jy die Here in al jou doen en late? Vra jy na sy wil in alles wat jy doen?

Laai af

Wat God beloof, word waar

Skriflesing: Miga 4:1 tot 5:14
Teksvers: Miga 5:1

In die profesie van Miga openbaar die Here Homself as die Een wat oordeel en genade betoon. Aan die een kant profeteer Miga dat oordeel op oordeel oor die inwoners van Samaria (10 stammeryk) en Jerusalem (2 stammeryk) gaan kom. Aan die ander kant kondig die Here genade, onverdiende genade, red-ding, vrede en uitkoms vir sy kinders aan.

Die klimaks van die Here se genade word gehoor in die woorde van Miga 5. Daar staan in vers 1 dat daar in Betlehem ‘n redder gebore sal word. Hierdie belofte het in Matteus 2 in vervulling gegaan met die geboorte van Jesus Christus in die stad van Dawid.

Advent (die weke voor Kersfees) hou in dat ons, ons verbly oor die Here wat nie sy beloftes vergeet nie. Hy is getrou en Hy sal al sy beloftes in vervulling laat gaan.

Laai af

« Older posts Newer posts »