Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Lukas (Page 9 of 13)

Koue voete of warm harte?

Skriflesing: Lukas 24:13-35 
Teksvers: Lukas 24:25-27 

Onverstandiges, mense sonder begrip, met harte wat traag is om alles te glo wat oor Christus beloof is… Dit is ‘n geweldige aanklag, en baie ontaktvol van die Here. Hoe kon Jesus sulke liefdelose woorde sê vir mense wat deur soveel hartseer en trauma gegaan het…? Weet die Here dan nie hoe sleg die omstandighede is nie? 

Mense wat die Bybel ken, en wat belydende gelowiges is, moenie geëvangeliseer word nie. Jesus is nie hier besig op die sendingveld nie, Hy verkondig met mag die evangelie van genade en verlossing. Dit is hoogtyd dat die kerk van Christus sal ophou vrees vir koue voete, en hulle harte rig op die ewige Koning. Amen 

Daar is blydskap in die hemel oor elke-een wat sy geloof bely!

Skriflesing: Luk 15:1-7 
Teksvers: Luk 15:7 

Belydenis van Geloof en Nagmaal 

Vanaand is daar groot vreugde… 

Eerstens is daar volwassenes wat belydenis van hul geloof doen en een wat gedoop word. Tweedens gaan ons as gemeente weer na ’n jaar die Heilige Nagmaal vier. 

Ons moet dit nie gering skat as mense wil deel word van die Kerk van die Here nie. Dit is so belangrik dat Jesus selfs in ’n gelykenis aan ons leer dat ons die nege-en-negentig ander skape moet los om die een te soek wat verlore is. Los beteken natuurlik nie in die wildernis nie, maar onder toesig en ordelik moet los. 

Daarom moet ons vanaand die Here opnuut loof en prys dat ons letterlik hierdie vreugde beleef om nuwe broeders en susters te verwelkom en die heilige nagmaal saam met hulle te vier. 

Verloën jy Jesus of wen jy die geestelike stryd met ‘n Oorwinningsperspektief?

Skriflesing: Luk 22:1-71; 1-6; 14-23; 31-34; 47-53; 54-62 
Teksvers: Luk 22:3-6; 21-23; 31;47,48; 60-62 
HK Sondag 52 

Judas Iskariot, self ‘n dissipel op sy tyd en Petrus, self ‘n lieflings-dissipel, verloën onse Here Jesus Christus. Dit is ‘n bewys van die skrikwekkende sondemag. 

Weens die sonde is ons in ‘n ononderbroke geestelike stryd teen die Satan, die sonde en ons eie vlees gewikkel. Ons moet nie een oomblik ons waaksaamheid verslap nie, want ons verkeer gedurig in die versoeking. 

Daarom dat ons Here Jesus Christus ons ook geleer het om te bid:…. 

“Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” 

Jou vra om vergifnis moet ook vergewensgesind wees!

Skriflesing: Matt 18:21-35; Lukas 7:36-50 (Matt 6:9-14; 1 Joh 1:5-10) 
Teksvers: Luk 7:47; Matt 18:31-33 
HK Sondag 51 

Die bede om brood en die bede om vergifnis word in Matteus 6:12 met die woordjie “en” aan mekaar verbind. Die mens het beide ewe nodig: brood vir die liggaam en vergifnis vir die siel! So leer die Woord ons dat die mens nie net van brood alleen sal lewe nie… Daar is dus ‘n heilige balans tussen die stoflike en geestelike. 

As jy egter mooi nadink, is die laste van jou sondeskuld veel erger as broodsgebrek. Die las van ‘n skuldige gewete en skuldgevoelens is dikwels die oorsaak van gebroke verhoudinge. Dit kan net heel word deur ware vergifnis. Vir daardie regte gesindheid moet ons bid. Vergifnis genees en heel. Daarom leer Jesus ons om te bid vir vergewing, mààr dan ook vir ‘n gesindheid waarin ek ook van harte gewillig is om my naaste opreg te vergewe.

Ons hoop is altyd op die toekoms gerig

Skriflesing: Lukas 9:51-62 
Teksvers: Lukas 9:62 

Die jaareinde het aangebreek en vir baie mense is dit ‘n groot verlig-ting. Die meeste mense sal sekerlik wil vergeet van 2020 wat die wêreld op sy kop gedraai het. Daarby lê daar nog ‘n geweldige groot onsekerheid voor ons. Wat sal tog in 2021 gebeur? Waarop sal ons hoop? Is daar vir ons ‘n toekoms? 

Niemand kan met sekerheid weet wat volgende jaar gaan gebeur nie. Dit beteken nie dat ons as gelowiges moed opgee en in sak en as gaan sit sonder enige hoop nie! Inteendeel, as van die dissipels met die Here praat oor hoe hulle Hom moet volg, dan sê Hy: Niemand wat ploeg en agtertoe kyk is geskik vir die koninkryk van God nie… 

Ons staan vanoggend stil by die tema: Ons hoop is altyd op die toekoms gerig. Amen 

« Older posts Newer posts »