Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Lukas (Page 8 of 13)

Christus bring gelooflike blydskap

Skriflesing: Lukas 24:30-53
Teksvers: Lukas 24:44

Na die manne van Emmaus terug gekom het in Jerusalem en by die ander dissipels aangesluit het, het hulle met groot blydskap openlik getuig van alles wat met hulle gebeur het. Die volgende oomblik staan Jesus in hulle midde. En toe hulle van blydskap nie kon glo wat hulle ervaar nie, begin die Here met hulle praat en Hy eet voor hulle oë. 

Dan verduidelik Hy dat alles wat gebeur het, reeds in die wet, die profete en psalms vooruit verkondig is. Die Ou Testament is die belofte van God se genade. Hy wat Jesus is, is waarlik die verkondigde Christus. 

Ons staan vanaand stil by die onuitspreeklike blydskap wat Jesus Christus bring deur die geloof. Amen 

Om weer hoop te skep en moed te vat!

Skriflesing: 1 Kor 15:19; Lukas 24:13-35 
Teksvers: Lukas 24:21 (en 27,35) 

Die dorpie Emmaus is so 12 km buite Jerusalem. So drie ure se flink stap of dalk bietjie langer vir die stadiges. Veral as jy diep in gesprek is en dan ook nog swaar van gemoed. 

Hierdie twee volgelinge van Jesus is diep bedruk. Dinge het gewoon net nie uitgewerk nie! En om jou nou te steur aan die vroue-praatjies sal darem nou nie so eervol wees nie… Totdat die teendeel letterlik bewys word! 

Let dan op na die gesindheidsverandering by ons twee broers van Emmaus. Wat maak die verskil? Hoe kry mens weer moed langs die pad van die lewe met al sy teleurstellings? 

Leidraad: God stel nooit teleur nie! 

Jesus lê die Bybel uit!

(Last updated on April 19th, 2021)

Skriflesing: Luk 24:13-35
Teksvers: Luk 24:16,27,31 

Verlede Sondag het ons die Opstanding van Jesus Christus gevier. 

Nadat Jesus slegs drie dae, Vrydag, Saterdag en Sondag in die graf deurgebring het, het Hy opgestaan. Glo jy dit? Leef jy dit? Sien jy dit in jou lewe? Die Grootste Prediker van alle tye, Jesus Christus self, verkondig of verklaar die hele Bybel se kerngedeeltes en dit is die wat oor Hom profeteer in die grootste Boek die Bybel. Wat beteken die opstanding vir jou? 

  • Die grootste Prediker van alle tye. 
  • Die grootste tema van alle tye. 
  • Die grootste Boek van alle tye. 

Koue voete of warm harte?

Skriflesing: Lukas 24:13-35 
Teksvers: Lukas 24:25-27 

Onverstandiges, mense sonder begrip, met harte wat traag is om alles te glo wat oor Christus beloof is… Dit is ‘n geweldige aanklag, en baie ontaktvol van die Here. Hoe kon Jesus sulke liefdelose woorde sê vir mense wat deur soveel hartseer en trauma gegaan het…? Weet die Here dan nie hoe sleg die omstandighede is nie? 

Mense wat die Bybel ken, en wat belydende gelowiges is, moenie geëvangeliseer word nie. Jesus is nie hier besig op die sendingveld nie, Hy verkondig met mag die evangelie van genade en verlossing. Dit is hoogtyd dat die kerk van Christus sal ophou vrees vir koue voete, en hulle harte rig op die ewige Koning. Amen 

« Older posts Newer posts »