Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Etiket: Dordtse Leerreëls (Page 1 of 4)

Maak jou roeping en verkiesing vas

Skriflesing: 2 Petrus 1:1-21 (2020)
Teksvers: 2 Petrus 1: 5-9

Ons sluit vandag af met die prediking aangaande die Dordtse Leerreëls. In hierdie laaste kanon vind ons die diepe troos van die volharding van die gelowiges, dat hulle nie uit die genade van God kan val nie. 

Soms gebeur dit egter dat ‘n gelowige kind van die HERE, soos die verlore seun, baie ver van sy Vader leef. Daarom kom die oproep, om eerder jou inwoning in die huis te verseker en te bevestig. Moenie tevrede wees met die minste nie. Lê jouself toe om met alle ywer (spoed en inspanning) om jou geloof te laat groei. Om God te ken en self uit sy liefde te leef. 

Daarvoor is die Nagmaal ‘n hulpmiddel, ‘n versterking van geloof. Maak dan jou roeping en verkiesing vas. 

God gee nie moed op met sy mense nie

Skriflesing: Filippense 1 (1983)
Teksvers: Filippense 1:6
DL Hfst 5

Daar is baie dinge wat ons blydskap steel. Een is twyfel. Twyfel aan jouself. Aan die Woord. Aan God! 

Ons twyfel maklik en dan bekruip die moedeloosheid en swartgalligheid ons soms sommer helder oordag. Dit is waarskynlik daaraan te wyte dat ons so maklik tou opgooi. As dinge bietjie swaar word, as ons begin sukkel, nou-ja dan staak ons sommer en gooi tou op. 

Ons gees doen nogal dieselfde soort ding as dit by geloof in God kom. 

Ons vergelyk God eintlik met onsself! En daarin vind Paulus die verskil: God is nie soos ‘n mens, soos ons nie! Hy gooi nie sommer net handdoek in nie. Nie dat ons dit vir Hom eintlik maklik maak nie. 

Wat húlle nie weet nie…

Skriflesing: Markus 4:1‑20 (Mat 13); Jesaja 55:8-11 (1983)
Dortse Leerreëls 3-4; 8-12
Teksvers: Markus 4:3

Die Here Jesus vertel hierdie gelykenis van die saaier en die saad wat op verskillende plekke val. Die ontstellende is dat nie al die saad groei en vrug oplewer nie. Hier word iets van die wonder van God se genade in en deur Jesus Christus verduidelik. 

Nie alle mense word sonder meer gered nie. En dit is ook nie uit jou vrye wil dat jy die keuse gemaak het om gered te word nie. Dit is voor alles ‘n genade werk van God, wat gegrond is in sy verkiesende genadebesluit. 

Let op daarna dat Jesus die gelykenis aan die skare van duisende mense rig, maar die verklaring net aan sy dissipels gee (4:10). 

Blus die Gees nie uit nie

Skriflesing: Handelinge 7:44-54; Efesiërs 4:17-5:2; 1 Tessalonisense 5:19 (2020)
Teksvers: Handelinge 7:30; 51-53

Die Remonstrante het in die 3de en 4de artikel van hulle leerstellings die standpunt ingeneem dat die mens se sonde nie tot die dood is nie, maar slegs ‘n ernstige aantasting van sy bestaan. Daarby het hulle ook verkondig dat die mens steeds sy vrye wil behou en nie geheel en al verdorwe is nie. So is hulle oortuig dat ‘n mens die werking van die Heilige Gees kan weerstaan, soos beskryf in Handelinge 7. 

Ons kyk vanoggend na die gesamentlike antwoord vanuit die Dordtse Leerreël wat hierdie twee dwalings gesamentlik aanspreek in Hoofstuk 3/4 met die oproep om die Gees van God nie te bedroef nie. 

Krummels vir die hondjies is genoeg

Skriflesing: Matteus 15:21-28 (Markus 7:24-30) (2020)
Teksvers: Matteus 15:25

Om iemand ‘n hond te noem is ‘n geweldige belediging. Honde was nie soos vandag, bekend as ‘n “man se beste vriend” nie. Honde het vry rondgeloop en geaas. Dit was onrein diere. 

Die woorde van ons Here Jesus laat ‘n mens eintlik na jou asem snak, dat Hy die heidene honde noem. Of ten minste dat Hy ‘n Kanaänitiese vrou wat Hom om hulp nader, wegwys en sê: “dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” 

Ons staan vanoggend stil by die tema wat opgesluit is in die antwoord van hierdie vrou, dat die hondjies die krummels eet wat van hulle base se tafel val. 

Trane sal nie help nie

Skriflesing: Gen 25:19-34; 27:27-41 Heb 11:20; 12:14-17 (2020)
Teksvers: Hebreërs 12:14-17

DL 1 par 15 beskryf dit so: Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend~ geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf. 

« Older posts