Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 5 of 342

Wat is die doel van my lewe?

Skriflesing: Efesiërs 1:1-14; Prediker 2 (1983)
Teksvers: Efesiërs 1:4

In ’n stukkende wêreld vol pyn en trauma lyk alles dikwels so doelloos en leeg. Dit is nie snaaks dat mense na die ware sin van die lewe soek nie. Die hele boek Prediker gee byvoorbeeld op ’n besondere wyse aandag aan hierdie vraag. Hy bekyk die vraag vanuit die oogpunt van ’n ongelowige en dan kry hy geen antwoord nie… totdat hy by God self uitkom: “Dien God en onderhou sy gebooie” (Pred 12:13). Daar kry mens die sin van jou bestaan. Anders nie! 

Paulus draai nie doekies om nie. Vir die Efesiërs gee hy die antwoord ondubbelsinnig: God het ons gemaak om Hom te dien. Niks anders nie. En selfs toe die mens nie meer aan sy doel kon beantwoord nie, weens die sonde en die gevolge daarvan, het God ingegryp en ’n plan gemaak. Hy het ons in en deur Christus weer sy kinders gemaak, SODAT ons weer aan ons oorspronklike skeppingsdoel kan beantwoord: Om Hom te prys en te dien. 

Saam opgebou tot ‘n woning van God

Skriflesing: Efesiërs 1:22–2:22 (1953)
Teksvers: Efesiërs 2:19-22
HK: Sondag 21

Die kerk is nie ‘n menslike instelling nie, maar God se verbondsvolk wat deur sy genadige belofte tot stand kom. 

Omdat Christus sy kerk bou tot ‘n woning, word gelowiges geroep om die eenheid wat Hy geskep het, te bewaar deur getrouheid aan die evangelie, die sakramente en Christelike tug. Die troosvolle versekering wys daarop dat Christus sy kerk voltooi as God se ewige woning. 

Dit gaan nie oor jou nie

Skriflesing: Psalm 57 (1983)
Teksvers: Psalm 57:12 (1-3)

Ek onthou eendag tydens neem van ‘n groepfoto dat die fotograaf vra dat ek nou tog net moet stilstaan… “die foto gaan nie oor jou nie”, het hy gesê. Ek was bietjie afgehaal, maar die diepte van die waarheid bly my altyd by. Dis ʼn groepfoto! 

Die koninkryk is groter as sy burgers. Die bos is meer as die grootste boom. Die mens se doel is groter as die mens self! 

Miskien moet ons almal bietjie minder met onsself en ons eie dinge besig wees en ons fokus in orde kry. 

Want uit Hom en deur Hom en TOT Hom is alle dinge…! 

Gebed – Die Gelowige se Gesprek met God

 Gebed is een van die grootste voorregte wat God aan sy kinders gee. Deur gebed mag ons met eerbied, maar ook met vrymoedigheid, tot die Here nader. Dit is nie bloot ‘n lys van versoeke nie, maar ‘n persoonlike gesprek met ons hemelse Vader, waarin ons Hom loof, ons sondes bely, dankie sê en ons behoeftes aan Hom bekend maak. 

Die Here Jesus het sy dissipels geleer hoe om te bid en het self ‘n lewe van gebed gelei. Hy het dikwels afgesonder om met sy Vader te praat. Dit herinner ons daaraan dat gebed nie net vir moeilike tye bedoel is nie, maar deel van ons daaglikse wandel met God behoort te wees. 

Die Bybel leer dat God die gebede van sy kinders hoor. Tog antwoord Hy volgens sy volmaakte wil en wysheid. Soms is sy antwoord “ja”, soms “nee”, en soms “wag”. Daarom bid ons met vertroue, maar ook met oorgawe aan sy wil. 

Ware gebed kom uit ‘n opregte hart en word gedra deur geloof in Jesus Christus. Soos Filippense 4:6–7 ons leer, hoef ons oor niks besorg te wees nie, maar moet ons alles deur gebed en smeking, met danksegging, aan God bekend maak. Dan sal die vrede van God ons harte en gedagtes bewaar. 

Mag ons daarom volhard in gebed, want dit versterk ons geloof, bring ons nader aan God en leer ons om in alle omstandighede op Hom te vertrou. 

Die Bybelskool van Centurion olv ds Maarten begin eerskomende Dinsdag 4 Augustus oor die Gebed. Moet dit nie misloop nie. Ons het verskeie sprekers ingevoer. Elke Dinsdagaand van 19:00 -20:30 in die kerkgebou. Sien jou daar! 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »