Die gemeente staan voor ’n belangrike en verantwoordelike taak: die beroeping van ’n herder en leraar. Dit is nie bloot ’n administratiewe besluit of ’n keuse tussen twee mense nie. Dit is ’n saak waarin ons as gemeente saam voor die Here staan en vra: Wie wil die Here aan hierdie gemeente gee?
Die Kerkorde van die GKSA gee in artikels 4 en 5 die raamwerk waarbinne die beroeping van ’n bedienaar van die Woord moet plaasvind. Die doel van hierdie orde is om die gemeente te help om die saak verantwoordelik, ordelik en in afhanklikheid van die Here te hanteer.
Die verkiesing van ’n tweetal behoort daarom met groot erns en gebed te geskied. Ons kies nie bloot volgens persoonlike voorkeur, bekendheid of menslike oordeel nie. Ons moet vra na iemand wat getrou aan die Woord van God is, wat die Gereformeerde belydenis onderskryf en wat die gemeente as herder en leraar kan dien.
In Handelinge 1:23–26 lees ons hoe die apostels, nadat twee persone voorgestel is, gebid het: “U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee aan wie U verkies het.” Daarna is die lot gewerp en Mattias is aangewys.
Hierdie gebeure herinner ons daaraan dat die kerk uiteindelik nie op sy eie wysheid en voorkeur moet vertrou nie. Die Here is die Een wat sy kerk regeer. Die loting was nie ’n toevallige spel nie, maar ’n daad van geloof en vertroue in God se voorsienigheid. Wanneer ons daarom die tweetal oorweeg, laat ons dit met gebed en nederigheid doen.
Die vraag is nie bloot: “Wie verkies ek?” nie, maar eerder: “Here, wie wil U aan ons gee?”
Mag die Here ons as gemeente lei om met wysheid en geloof op te tree. En wanneer die besluit geneem is, mag ons dit in vertroue aanvaar as deel van die Here se regering van sy kerk.
Laat ons daarom saam bid dat die Here self die weg sal wys en aan ons ’n herder en leraar sal gee wat Christus getrou verkondig, die kudde met liefde versorg en die gemeente opbou in die geloof.
Ds. Maarten