Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 6 of 330

Die Wet Is Volmaak, maar ek is nie

Skriflesing: Psalm 19:1-15 (2020)
Teksvers: Psalm 19:8-10
HK: Sondag 2

Ons het verlede week gehoor hoe nodig ons troos het. Ons is soos ‘n baba wat verwerp is, wat sonder God se genade nie kan oorleef nie. Tog het Hy ons skoon gewas en sy bruid gemaak. 

Die bruid is nie uit haarself waardig om te regeer as koningin nie, sy word waardig gemaak. As sy in die Koning se spieël kyk, sien sy al haar sondige gebreke, haar gebrek aan skoonheid en veral die afwesigheid van liefde. 

Ons staan vanaand stil by Psalm 19 wat vir ons die volmaaktheid van die wet beskryf. 

Christus beter en groter as die Profete!

Skriflesing: Hebreërs 1:1-4; 13:8; Fil 2:5-11; Joh 1:1-3; Kol 2 (1983)
Teksvers: Hebreërs 1:1-4

Ek bepaal u aandag in die prediking steeds by die jaartema en die grootheid of gróótsheid van ons Verlosser. In sy pragtige kommentaar op Hebreërs beskryf Prof Andrie du Toit ons teksverse as een van die keurigste en diepsinnigste sinne in die hele Bybel! (p. 33) 

Keurig omdat die Griekse teks 5 keer met die letter ”p“ allitereer: polumeros kai polutropos palai tois patrasin en tois profetais. As ons daaraan dink dat hierdie boek eintlik ‘n preek is wat aan die gemeente van Rome voorgelees moes word, sou jy verstaan dat by die aanhoor van hierdie keurige verse die mense se aandag dadelik gevange geneem is. 

Diepsinnig omdat dit een eintlik ‘n doksologie is op die oorgang van die Ou Testament na die Nuwe Testament se verstaan oor wie die ware Verlosser van die wêreld is! 

Die Kerk as Getuie in ’n Gebroke Wêreld

Ons leef in ’n tyd van onsekerheid, morele verwarring en geestelike onverskilligheid. Nuusopskrifte getuig van konflik, ekonomiese druk en gebroke verhoudings. In só ’n wêreld kan ’n mens maklik moedeloos raak. Tog bly die roeping van die kerk onveranderd: ons is geroep om as liggaam van Christus lig en sout te wees (Matt. 5:13–16). 

Die Here vergader, beskerm en onderhou vir Hom ’n gemeente deur sy Woord en Gees. Elke Sondag kom ons saam om onder die bediening van die Woord te sit. Daar word Christus aan ons verkondig — gekruisig en opgestaan. Daar word ons geloof versterk, ons harte vermaan en ons hoop vernuwe. Maar die erediens is nie die eindpunt nie; dit is die begin van ’n nuwe week se diens. 

As gelowiges word ons uitgestuur as getuies. In ons huwelike en gesinne, by die werk en in die gemeenskap, dra ons die Naam van Christus. Ons woorde moet getuig van waarheid, ons optrede van liefde, en ons houding van nederigheid. Getuienis is nie bloot ’n besondere projek of ’n georganiseerde aksie nie — dit is ’n lewenswyse. Wanneer ons vergewe, wanneer ons getrou bly te midde van druk, wanneer ons hoopvol leef ondanks swaarkry, wys ons op Hom wat ons Verlosser is. 

Laat ons daarom volhard in gebed, trou wees in eredienste, en mekaar bemoedig in die geloof. Die wêreld het nie nóg opinies nodig nie, maar ’n sigbare, lewende getuienis van God se genade. Mag ons gemeente só leef dat Christus verheerlik word, en dat mense deur ons lewe na Hom toe getrek word. 

Aan Hom alleen die eer 

Ds. Maarten 

Jy is duur gekoop

Skriflesing: Johannes 14; Openbaring 19; 2 Kor 11:2 (1983)
Teksvers: Openb 19:7,8
HK: Sondag 1

Ons begin vanaand weer met leer-prediking volgens die Heidelbergse Kategismus. Hierdie is volgens Kerkorde Art 68 ‘n opdrag aan elke gemeente en moet dus gereeld onderhou word. Mens sou hierdie sg. Kategismusprediking kon sien as voortdurende volwasse toerusting van die gemeente van die Here Jesus Christus. 

Ons neem in hierdie onderrig altyd die temas uit die belydenisskrif (HBK), maar die inhoud van die prediking bly steeds die Woord van God. 

Dit sal ‘n goeie wenk wees dat elkeen van ons HK Sondag 1 uit die hoof leer ken. Probeer dit gerus, want dit is ‘n baie mooi opsomming van ons geloof (jou troos). 

Uit Hom = In Hom

Skriflesing: 1 Johannes 2:1-17 (2020)
Teksvers: 1 Johannes 2: 3-6

Om uit God gebore te wees, beteken tog sekerlik ook dat jy vanuit Hom voortkom. Hy is die Een wat jou maak en vorm deur die Heilige Gees wat jy is, ‘n Kind van die Allerhoogste. 

Kinders vertoon nie net die eienskappe van hulle ouers nie, hulle doen ook wat hulle ouers doen. So moet ons as kinders van God, wat uit Hom gebore is, ook in sy beeld en gelykenis leef. Ons moet lyk soos Hy lyk. Ons moet leef soos Hy wil hê ons moet leef. Met ander woorde, om uit God te wees, beteken ook om IN Hom te wees. 

« Older posts Newer posts »