Page 3 of 344
Skriflesing: Psalm 34:1-23 (2020)
Teksvers: Psalm 34:8
Om te smaak is nie net om te proe nie. Ons sal baie maal beskrywings gebruik waarin ons sintuie verwoord wat ons in ervaring beleef. Om te smaak dat die HERE goed is, beteken tog om iets te beleef, om iets te ervaar van die goedheid van ons Verlosser.
So kan ons aan die Nagmaalstafel die brood en wyn smaak, die fisiese smaak, terwyl dit baie dieper simboliek weerspieël van God se genade en seën deur die liggaam en bloed van Christus.
Ons staan vervolgens stil by die Nagmaal met die tema: Smaak en sien dat die HERE goed is.
Skriflesing: Duet 31:1-8 (2020)
Teksvers: Deut 31:6,8
Israel staan op ’n kruispad: Hulle gaan die beloofde land inneem, maar Moses sal nie saamgaan nie. Die Here troos hulle:
Die Here is met sy volk, en daarom kan hulle vol moed wees.
Die Here self sal voor hulle deur die Jordaan trek (v.3); Hy sal hulle nie verlaat nie (v.6). Christus is in ons plek deur God verlaat, sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.
Die Here is met sy volk se voorganger, en daarom kan hy vol moed wees.
Josua ontvang dieselfde opdrag as die volk: “Wees sterk en vol moed!”
In die mitologie van die heidene word Momus, die god wat fout vind, voorgestel as iemand wat Vulcanus verwyt het. Vulcanus het die mens uit klei gemaak, maar volgens Momus het hy ’n fout gemaak: Hy moes ’n venster in die mens se bors gesit het, sodat alles wat daar binne gedoen of gedink word, maklik aan die lig gebring kon word.
Ons gelowiges stem egter nie met Momus saam nie. Ons is ook nie soos iemand wat begeer dat daar ’n venster in sy bors moet wees sodat almal sy hart kan sien nie. As ons so ’n venster gehad het, sou ons waarskynlik vir luike gebid het — en dit styf toegemaak het.
Want ons harte bevat dinge wat ons nie noodwendig vir ander mense wil wys nie: gedagtes, motiewe, vrese, begeertes, teleurstellings en selfs sondes wat ons diep binne-in ons wegsteek.
Maar Psalm 139 bring ons voor ’n belangrike waarheid: Al het ons nie ’n venster in ons bors waardeur ander mense kan kyk nie, die alomteenwoordige God het nie een nodig nie. Hy ken ons hart. Hy sien wat vir ander verborge bly.
Daarom bid Dawid:
“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes. Kyk of daar by my ’n weg van smart is, en lei my op die ewige weg.” Psalm 139:23–24
Dawid vra eintlik: “Here, maak die luike oop.” Nie omdat God nog iets van hom moet ontdek nie, maar omdat Dawid bereid is om homself eerlik voor God te stel.
So berei ons, ons ook voor vir die Nagmaalviering. Die Nagmaal is meer as ’n tradisie of ’n geleentheid om saam aan tafel te sit. Dit is ’n uitnodiging om stil te word voor God en ons eie harte te ondersoek.
Die vraag is nie: *Kan God sien wat in my hart is? *Hy kan.
Die vraag is: Is ek bereid om Hóm toe te laat om dit aan my te wys — sodat ek my kan bekeer?
Mag ons met oop harte na die Nagmaal kom: bereid om te bely, te ontvang, te vergewe en opnuut die genade van Christus te omhels.
“Here, ondersoek my. Wys my. Reinig my. En lei my op die ewige weg.”
Ds. Maarten
Skriflesing: Openbaring 4,5 (1983)
Teksvers: Op 4:1
As die Here vir Johannes die hemeldeur oopmaak is dit ‘n openbaring van God self aan ‘n mens. Die apostel moet alles wat hy sien opskryf en aan die kerk van Christus uitstuur (vgl Op 1:11).
Die doel van hierdie ‘openbaring’ kan nie maar net voorspelling wees nie. Daar sit veel meer daarin. God openbaar iets van Homself! Hy het ons immers gemaak sodat ons Hom kan ken. Hier sien ons dan in ‘n visioen die hemele oop en ons sien simbolies wie en wat God is en daarna ook wat Hy doen.
Kyk ons na die rampe en aardbewings en natuurverskynsels van ons tyd weet ons dat Hy aan die werk is en dat die koms van Christus naby is. Die beste manier om jou daarvoor voor te berei is, om nog dieper in hierdie openbaring van God (die héle Skrif!) in te delf.