Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 2 of 342

Die doel van God se openbaring

Skriflesing: Openbaring 4,5 (1983)
Teksvers: Op 4:1

As die Here vir Johannes die hemeldeur oopmaak is dit ‘n openbaring van God self aan ‘n mens. Die apostel moet alles wat hy sien opskryf en aan die kerk van Christus uitstuur (vgl Op 1:11). 

Die doel van hierdie ‘openbaring’ kan nie maar net voorspelling wees nie. Daar sit veel meer daarin. God openbaar iets van Homself! Hy het ons immers gemaak sodat ons Hom kan ken. Hier sien ons dan in ‘n visioen die hemele oop en ons sien simbolies wie en wat God is en daarna ook wat Hy doen. 

Kyk ons na die rampe en aardbewings en natuurverskynsels van ons tyd weet ons dat Hy aan die werk is en dat die koms van Christus naby is. Die beste manier om jou daarvoor voor te berei is, om nog dieper in hierdie openbaring van God (die héle Skrif!) in te delf. 

‘n Wyse Man Bou sy Huis op die Rots

Skriflesing: Psalm 18:1-6 (2020)
Teksvers: Psalm 18:2-3

Psalm 18 is ‘n wonderlike getuienis van die Here se verlossing. Dawid verkeer in groot benoudheid, sy lewe word bedreig, en hy moet vlug vir Saul. As die Here hom red, skryf hy hierdie danklied. 

Hy weet hy kan op die Here vertrou, omdat hy die Here ken. Die Here is sy rots. Sy lewe is op ‘n vaste fondament. Want Dawid weet ook baie goed sy kragte is beperk. Hy word oorweldig deur sy benoudheid en vrees vir onheil wat hom oorval. Tog aanbid hy die Here. Hy dien die Here wat lofwaardig is, en in sy nood ken hy sy Trooster. Tog weet Dawid ook hy kan op die Here vertrou wat sy gebed aanhoor. Die oë van die Here is op die regverdige en sy ore op hul gebed. 

Ons staan vandag stil by die tema: 

‘n wyse man bou sy huis op die Rots. 

Om ons skeppingsdoel te ontdek

In die klassieke verhaal White Fang lees ons van ’n wolf wat gebore word en op soek is na die sin van sy bestaan. Wanneer hy uiteindelik ontdek dat hy ’n roofdier is wat gemaak is om te jag en bloed te eet, begin hy met oorgawe leef. Hy ervaar dat hy aan die doel van sy maker beantwoord. Van daar af fokus hy al hoe meer op een ding: om te jag, dood te maak en te vreet. Hy word ’n vreeslike, vreetlustige wese wat voortdurend op soek is na sy volgende prooi. 

Wanneer ’n mens egter werklik begin raaksien en verstaan wat sy of haar skeppingsdoel is – dat ons hier is vir die Here – begin ons iets van die Skepper se bedoeling met ons lewe verstaan. Dan leer ons om ons al hoe meer deur Hom, dit wil sê deur sy Gees, te laat lei sodat ons ons lewe aan sy doel kan wy. 

Die tema van die jaar, en daarom ook die tema van hierdie naweek se gemeentekamp, wil ons help om weg te draai van ’n selfgerigte en eiewillige lewe en ons aandag al hoe meer op ons Skepper en Verlosser te rig. Wie werklik biddend na die wil van God soek, begin verstaan dat ons maar net deel is van God se veel groter plan. 

Lees gerus weer Efesiërs 2:1–10. Daar word ons daaraan herinner dat dit uiteindelik nie oor onsself gaan nie, maar oor God en sy genade. Paulus skryf dat God in die tye wat kom, “sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.” 

Laat ons daarom biddend nadink oor die wesenlike dinge van ons lewe en minder besorg wees oor die verganklike dinge. Ons Vader sorg vir ons. Hy sorg vir ons sodat ons met groter toewyding Hom kan dien en eer. 

Mag ons al hoe minder om onsself draai en al hoe meer om Hom – ons Skepper en Verlosser. 

Ds. Maarten 

Geseënd is die Siel wat Dors na God

Skriflesing: Psalm 42:1-12 (2020)
Teksvers: Psalm 42:3-5
HK: Sondag 25

My siel dors na God” Is dit nie geweldige woorde nie? Dat jou siel so dors is, dat dit uitgedroog en leeg voel, en die enigste verlange is om dit te laaf met God self. 

Ons is so geneig om te dink dat alles van die wêreld ons sielsbegeerte sal vervul. Ons dink dat geld en goed ons verlange sal stil maak. 

Hier in Psalm 42 leer ons ‘n waardevolle lewensles, God alleen is die Een wat ons siele vertroos en berusting gee. Geseënd is die siel wat dors na God. 

« Older posts Newer posts »