Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 37 of 187)

DIE SESDE GEBOD:LIEFDELOOSHEID IS MOORD

Skriflesing: Genesis 4; Heb 12:24; Ef 4:26
Teksvers: Genesis 4:6-9
HK: Sondag 40

Die geweld van moord en doodslag het deel van ons alledaagse lewe geword. Padwoede en motorkapings, plaasmoorde en gesinsgeweld, dreigemente en wraakgedagtes, gewapende roof en nog veel meer is so alledaags dat ons byna gewoond geraak het daaraan. Maar dit is alles tekens dat die een die ander nie meer die lewe gun nie. Dit lei maklik ook tot ‘n selfsugtige soeke na eie bestaan selfs al is dit ten koste van die ander.

Die sesde gebod roep na nuwe harte, wat aangevuur word deur die liefde van Christus wat sy lewe opoffer vir ons as sondaars. Want die liefde verdra en glo en hoop. Dit is die liefde wat deur die geloof tot dade oorgaan!
Waar is jou broer? Waar is jou suster? Is jy ook jou broer se wagter?

Wees oorvloedig in goeie werke

Skriflesing: 2 Korintiërs 9:1-15 (2020)
Teksvers: 2 Korintiërs 9:9-11

In baie opsigte word geluk vandag bepaal deur dit wat jy ontvang. Mense oor die algemeen is onder die indruk dat besittings, geld en goed ‘n mens sal gelukkig maak. In hierdie hoofstuk leer die Heilige Gees ons deur die apostel, dat dit inderwaarheid die teendeel is. Om te gee bring vreugde. Soos Jesus ook eenmaal sou opmerk: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

Soos ons verlede week uit hoofstuk 8 gehoor het, gaan dit oor die gesindheid waarmee gegee word, baie meer as die hoeveelheid. So was daar reeds in die eerste brief melding gemaak van ‘n kollekte vir die gelowiges in Jerusalem. Paulus het geroem oor die Korintiërs se vrygewigheid al het hulle nie baie nie. Nou kom hy die kollekte haal en stuur Titus vooruit sodat hulle nie onverhoeds betrap word nie. Ons staan vanoggend stil by die gevolge van ‘n gesindheid van seën met die aansporing dat hulle oorvloedig sal wees in goeie werke.

Voorvaders voor die Vader

Skriflesing: Matteus 15:1-20 (2020)
Teksvers: Matteus 15:7-8
HK: Sondag 39

Eer jou vader en moeder. Hierdie is nie onbekende, vreemde woorde nie. Tog is daar soms misverstand oor wat die gebod werklik bedoel. Sommige mense haak vas by outoriteit, veral die owerheid. Hierdie gebod is gegee bykans 400 jaar voordat daar ‘n koning in Israel of owerheid was. Die fokus lê by VADER en MOEDER. Die huisgesin is hier in die oog, nie die regering nie. Ouers moet eerwaardig optree en hulle kinders leer om met eerbied en ontsag veral vir God te leef . 

Ons kyk vanaand na Jesus se optrede as daar ‘n afvaardiging uit Jerusalem opdaag om sy werk te ondersoek. Volgens hierdie geselskap is daar geen ontsag of eerbied vir die voorvaderlike gebruike nie, maar Jesus leer ons ook die voorvaders staan voor die Vader. 

Die nuwe lewe raak sigbaar in jou beursie

Skriflesing: 2 Korintiërs 8 (1983)
Teksvers: 2 Korintiërs 8: 8,9

Ons sit die reeksprediking uit die Tweede Korintiërbrief voort, met die oorhoofse jaartema van “Die Nuwe Lewe in Christus” ( 2 Kor 5:17). 

Iemand het onlangs in sy preek gesê hierdie hoofstuk is nie vir die finansieel-sensitiewe lesers nie! 

Maar op die ou end praat Paulus nie oor geld nie maar oor ons houding en die gesindheid van nuwe harte. So word ons ‘n aansporing vir mekaar as ons ons geloof praktyk maak. 

Die gebooie is verbondseise

Skriflesing: Eksodus 20:1-17 (1983) 
Teksvers: Eksodus 20:3 
HK: Sondag 34 

God het hierdie een hoofdeel van die Bybel, die Tien Gebooie, met sy eie vinger geskryf. Daarin kan ons sien dat Hy, God, ag die gebooie as baie belangrik vir jou en elke ander mens se lewe op aarde. Vir Hom is dit belangrik dat jy goed sal verstaan wat die Tien Gebooie is en met watter gesindheid jy hulle moet gehoorsaam. 

As die regte gesindheid ontbreek, kan dit of daartoe lei dat jy die gebooie van God minag, omdat jy nie God se stem daarin hoor nie, of dat jy die gebooie van God – jou afgod maak. Jou vertroue is dan nie meer op God gestel nie, maar op jou eie onderhouding van die gebooie soos jy dit graag wil interpreteer. 

Juis die inleidende woorde van die wet: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny verlos het”, verduidelik juis met watter gesindheid jy hierdie gebooie moet onderhou. 

Daaglikse bekering—ʼn teken van jou nuwe lewe in Christus

Skriflesing: 2 Korintiërs 7 (1983) 
Teksvers: 2 Korintiërs 7:9-11 

Ons sit nou weer die reeksprediking uit die Tweede Korintiërbrief voort, met die oorhoofse tema van die Nuwe Lewe van die Christen (Jaartema – 2 Kor 5:17 – Nuwe lewe in Christus). 

Prakties gesproke is die belangrikste deel van hierdie nuwe lewe juis dit wat Paulus graag by sy lesers wou vind en tot ‘n mate ook gekry het, nl. BEKERING. Ware bekering gaan egter dikwels met diepe worstelinge en droefheid gepaard soos waarna Paulus in hierdie hoofstuk verwys. 

Die sogenaamde ‘Trane-brief’ wat waarskynlik tussen Eerste en Tweede Korintiërs aan die gemeente gestuur is, dien as agtergrond vir die verstaan van Paulus se betoog en ons fokusteks. 

« Older posts Newer posts »